SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Skole
‘Skoolhoofde moet op Saids-knoppie druk’

Die onus om die gebruik van opkikkers in skolerugby te help hokslaan, berus by skoolhoofde.

Só meen die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids), wat Maandag gesê het dat dié organisasie net spelers by skole kan gaan toets op aandrang van die skole se hoofde.

Ná bewerings in November dat Suid-Afrikaanse rugby ’n dwelmkultuur het en daar weer gewys is op die ses seuns wat in 2018 se Cravenweek-toernooi positief getoets het vir verbode middels, het Khalid Galant, hoof van Saids, toegegee daar is ’n opkikkerprobleem in skolerugby.

Die o.18-Cravenweek-toernooi is in 2018 in die Paarl gehou. Ses spelers wat daardie jaar getoets is, het verbode middels gebruik. Foto: Gallo Images

Galant het vroeër in ’n omvattende e-pos aan Netwerk24 gesê dat skole- en varsityrugby in Suid-Afrika “ ’n hoë toleransie vir verneukery en die gebruik van opkikkers toon”.

Galant het by navraag aan Netwerk24 gesê dat ’n totaal van 154 spelers in 2018 se Cravenweek in die Paarl en vanjaar se toernooi in Bloemfontein getoets is.

Die toetsresultate van vanjaar se toernooi wat al afgehandel is, was sover almal “skoon”.

Die opkikker-bohaai volg nadat twee Ierse rugbykommentators, Neil Francis en Ger Gilroy, Suid-Afrika se Wêreldbeker-triomf bevraagteken het. Die Bok-vleuel Aphiwe Dyantyi, wat die toernooi misgeloop het omdat sy A- en B-monsters positief getoets het vir die gebruik van opkikkers, is uitgelig as ’n voorbeeld van die dwelmkultuur in SA rugby.

Galant sê Saids se uitdaging lê daarin dat hulle eers skole mag besoek om leerlinge te toets, mits skoolhoofde hulle nader, ’n aspek van die stelsel wat hy meen een van die “swakpunte” is.

“Die skolewet beperk die regsmag wat entiteite soos Saids, wat nie deel van die skole is nie, het.”

Dis ’n aspek wat Saids glo hul pogings kniehalter om meer spelers uit te vang omdat dié versoeke selde ingedien word.

Gevolglik is net 71 toetse gedoen buite die kompetisie-venster van die Cravenweek-toernooi in 2019.

Hy weet egter nie of dié toetse slegs op spelers wat vir hul skole se eerstespanne uitdraf, gedoen is nie.

“Dit word nie verlang van skole om te sê in watter spanne die spelers uitdraf nie.”

Skole wat deel is van Saids se “Drug Free Sport”-program maak die deur wel oop vir Saids om besoeke by dié skole af te lê.

“Die ooreenkoms bied die regsraamwerk (om skole te kan besoek).”

Deel van Saids se veldtog is om kinders opvoeding oor die gevare van opkikkers te gee.

“Ons interaksie met skole is deur opvoedkundige sessies oor die gevare van die gebruik van verbode middels en ook toetse.”

’n Afrigter van een van Pretoria se voorste rugbyskole wat aan die Virsekerbeker-reeks deelneem en nie die skool se naam genoem wil hê nie, het egter aan Netwerk24 gesê dat hoewel hulle deel van die Drug Free Sport-program is, hulle nie in die afgelope twee jaar ’n enkele keer deur Saids besoek is nie.

Meer oor:  Skolerugby  |  Verbode Middels  |  Saids  |  Opkikkers  |  Drug Free Sport-Program
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.