Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Ou stewels afgestof vir feesrugby

Die Wêreld-skolerugbyfees het Saterdag ou vriendskappe en wedyweringe weer laat vlamvat met die oudleerlingspanne van verskeie skole, asook ’n span gelaai met voormalige Springbokke, wat almal die stewels diep agter in die klerekaste gaan uitvis het om vir oulaas weer te gaan opdraf.

Mannetjies Roux (middel) het as rasieleier vir Paarl Boishaai se Legendsspan opgetree vir hul stryd teen die SA Legends, met Corné Krige (regs) en De Wet Barry wat albei gespeel het. Foto: Adrian de Kock

Die Goue Oues van die Afrikaanse Hoër Seunskool, Paarl Gimnasium, Grey-kollege en die Hoër Jongenskool Paarl het voor ’n volgepakte stadion die roes afgeskud met die mediese personeel wat die ambulanse lekker naby die veld parkeer het.

Die toeskouers sou verskoon word as hulle gedink het die tonele voor hulle speel in stadige aksie af, maar dat dit vir hope opwinding gesorg het, kan nie ontken word nie.

Boishaai Legends en die SA Legends was ongelukkig nie so bevoorreg om in die sonskyn te speel nie en moes onder die spreiligte in die koel Paarlse lug uitdraf. Die twee spanne het met 19-elk gelykop gespeel en vir ’n beter uitslag vir dié riskante ekspedisie kon nie gevra word nie.

Met ’n traan in die oog en staande applous wat hom verwelkom het, het Mannetjies Roux die koue aangedurf en voor gestap om sy alma mater as rasieleier op die veld te lei.

En aan vaardighede het dié klomp ou bene net mooi niks geskort nie.

Die Oud-Affies het Paarl Gimnasium se oudstudente met 12-10 geklop in ’n opwindende stryd waar albei spanne gelyk het of hulle deur Elastoplast geborg is, met meters se pleister wat vir dié kragmetings aangeskaf is.

Die voormalige Springbok Grant Esterhuizen in aksie vir Affies se Oudstudentespan teen Paarl Gimnasium se Oudstudente. Die oud-Affies het 12-10 gewen. Foto: William Brown

Grant Esterhuizen, wat op sy dag sewe toetse vir die Springbokke gespeel het en van Frankryk af gevlieg het net vir dié wedstryd, het steeds gelyk of daar darem ’n druppel of twee in die tenk oor is.

Die oudstudente van Grey-kollege, met name soos Naka Drotske en CJ van der Linde, wat hul gloriedae herleef het, het Paarl Boishaai se oudstudente met 12-7 geklop.

Die Bloemfonteiners het by die tradisionele Grey-rugby gehou en die bal wyd en syd rondgegooi, met vaardighede wat dikwels beter was as dié van die oorsee spanne wat by die skolefees in aksie was.

Terwyl die liters Deep Heat gevloei het en ’n dosyn dyspiere die een ná die ander gegaan het, het die toeskouers met jubelende applous hul ou helde aangespoor.

Toe die eindfluitjies blaas, het ’n paar manne wat meer as gedaan was, blad geskud en die glimlagte het boekdele gespreek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.