Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Oud-Bokke se dogters speel hokkie in Bloem

Die spruite van twee Springbokke tel onder etlike voormalige sportlui se kinders wat sedert Donderdag aan die Super12-hokkietoernooi by die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein deelneem.

Oranje se Elney Botha (in die geel) Vrydagoggend in aksie teen Collegiate. Foto: Mlungisi Louw

Twaalf van die voorste skole-hokkiespanne in die land neem aan die jaarlikse toernooi deel, wat Oranje reeds die afgelope vier jaar gewen het.

Die oud-losvoorspeler Tiaan Strauss (53), wat Suid-Afrika in 15 toetse tussen 1992 en 1994 en Australië in 11 toetse in 1999 verteenwoordig het, se dogter Amé is ’n leerling aan die Hoërskool Bloemhof op Stellenbosch.

Strauss het die Bokke in een toets aangevoer. Dit was teen Nieu-Seeland in 1994 in Dunedin. Suid-Afrika het daardie stryd met 14-22 verloor. Hy het ook die Westelike Provinsie in meer as 150 wedstryde verteenwoordig.

Tiaan Strauss in aksie vir die Springbokke in 1994. Foto: Gallo Images

Chris Rossouw (48), oud-haker en flank, wat deel van die Springbok-span was wat die Wêreldbeker in 1995 verower het, se dogter Joané is in Paarl Gimnasium se span.

Rossouw het die laaste van sy nege toetse (agt as haker en een as flank) in 1999 se Wêreldbeker-toernooi teen Nieu-Seeland in Cardiff gespeel.

Michelle de Souza, wat die SA hokkiespan in die 1990’s verteenwoordig het, se dogter Cloé is in St. Stithians se span.

Etlike van Oranje se spelers se ouers het die Vrystaat of Griekwas op die sportveld verteenwoordig.

Waksie Prinsloo, wat senter vir die Vrystaat en Griekwas gespeel het, se dogter Truné is boonop vroeër vanjaar in die SA o.16-hokkiespan ingesluit.

Wyle Barnie Britz, wat in die 1990’s vir die destydse Noord-Vrystaat (Griffons) rugby gespeel het, se dogter Jané is ook in Oranje se span.

Sas Kasselman, wat skrumskakel vir die Vrystaat en Transvaal gespeel het, se dogter Liesl speel vir Voortrekker van Bethlehem.

* Oranje het Donderdag, op die eerste dag, gelykop teen St. Stithians (2-elk) gespeel en daarna met St. Mary’s (2-0) en Paarl Gimnasium (2-0) afgereken.

Chris Rossouw in aksie teen Wes-Samoa tydens 1995 se Wêrelbekerbeker-toernooi op Ellispark. Foto: Gallo Images

Die tuisspan het Collegiate Vrydag met 2-0 geklop, wat ook die vierde keer vanjaar was dat die twee spanne kragte gemeet het. Dit was die einste Collegiate wat Oranje by die St. Mary’s-toernooi met 1-0 verslaan het, waarna die Bloemfonteiners die volgende twee wedstryde met 2-1 en 5-2 beklink het.

Oranje het Menlopark Vrydagmiddag met 2-1 getroef.

Morné Odendaal, afrigter van Oranje, sê sy span se sterkste mededinging om die titel te behou gaan van Menlopark, St. Mary’s en Herschel kom.

“Dit is verblydend dat ons steeds kan wen, al vuur ons nog nie op al ons suiers nie.”

Die toernooi se uitspeelwedstryde is Saterdag, op die laaste dag.

Meer oor:  Hokkie  |  Tiaan Strauss  |  Oranje  |  Super12-Hokkietoernooi  |  Chris Rossouw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.