Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Knoeiers ‘was fisiek, maar nie veel groter’

As dit van hom afhang, sal daar nie appèl aangeteken word teen die uitslag van verlede jaar se o.13-Cravenweek-eindstryd nie.

So sê SW Verster, afrigter van die WP-jonges in 2019, nadat dit vandeesweek aan die lig gekom het dat die span wat met 26-24 met die Streeptruie afgereken het, die Haaie, twee seuns ingespan het wat tóé onderskeidelik 16 en 17 jaar oud was.

Samuel Badenhorst van die WP se o.13-Cravenweekspan op die aanval teen die Valke tydens verlede jaar se toernooi in Witrivier. Dié span moes in die nie-amptelike hoofwedstryd teen die Haaie teen twee ouer seuns speel. Foto: Gallo Images

Dié twee leerlinge is vandeesweek uitgevang nadat die Glenwood High School hulle albei vir beendigtheidstoetse gestuur het. As hulle nie uitgevang is nie, sou hulle as 17- en 18-jariges vir die Durbaniete se o.14-span uitgedraf het vanjaar.

Nog twee gr. 8-seuns is vandeesweek om dieselfde rede saam met hulle deur Glenwood High geskors.

Dié skandaal het vrae laat ontstaan oor die geldigheid van die KwaZulu-Natallers se uitslae in verlede jaar se o.13-Cravenweek-toernooi in Witrivier. Die jong Haaie het daar ook teen die Goue Leeus en Oostelike Provinsie gespeel.

“Ek dink nie ek sal appèl aanteken oor die uitslag nie, want dit gaan nie noodwendig iets verander nie. Die twee seuns sit nou reeds met rooi gesigte nadat die nuus gebreek het en dit in byna elke koerant is,” het Verster by navraag aan Netwerk24 gesê.

Volgens dié ervare skoleafrigter, wat hoof is van die Laerskool Gordonsbaai se sport, kan hy nie sê dat hy juis verlede jaar onraad vermoed het toe hulle teen die Haaie gespeel het nie.

“Ek moet eerlik wees en sê dié twee seuns was vreeslik fisiek gewees toe ons teen hulle gespeel het, maar nie noodwendig baie groter nie.

“Deur die loop van die toernooi het ek gesê dat daar twee seuns is wat vir my in elke wedstryd uitgestaan het. Dit was die losskakel en die buitesenter van die Haaie. Dit was toe op die ou einde die twee seuns wat uitgevang is.”

Ek moet eerlik wees en sê dié twee seuns was vreeslik fisiek gewees toe ons teen hulle gespeel het, maar nie noodwendig baie groter nie
SW Verster

Die WP se nederlaag in die nie-amptelike eindstryd was sy eerste in sewe jaar in die o.13-Cravenweek. Onder Verster was die span van 2015 en 2018 vier jaar agtereenvolgens onoorwonne.

Hy het gehoop om 2019 op ’n hoë noot af te sluit en dan terug te staan as hoofafrigter, maar dié gebeure in Witrivier kan meebring dat hy nog ’n bietjie langer vasbyt.

“Ná verlede jaar mag ek dalk probeer om nog so ’n ekstra jaar rond te hang en as die span se afrigter aan te bly.”

Hy sê hoewel sy span oor die laaste hekkie gestruikel het, glo hy dat die eindtelling boekdele spreek van hoeveel veggees sy span gewys het.

“Die WP-span wat ek verlede jaar na die toernooi gevat het, was een van die talentvolste spanne wat ek al afgerig het,” voeg hy by.

* Intussen het ’n woordvoerder van Saru aan Netwerk24 gesê dat hulle nog nie besluit het of die uitslae van die Haaie se o.13-Cravenweekspan van 2019 ongeldig verklaar sal word nie.

* Dr. Andri Barnes, skoolhoof van die Glenwood High School, het Woensdag in ’n kort omsendbrief aan ouers gesê altesame vier van die skool se gr. 8-leerlinge is met onmiddellike ingang geskors nadat hulle dokumente vervals en oor hul ouderdomme gelieg het om toelating tot die skool te verkry,” lui die omsendbrief.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.