Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Ouderdom-skok: Glenwood skors vier

Dis toe nie twee nie, ook nie drie nie, maar vier seuns wat hulle glo skuldig gemaak het aan die indien van vervalste dokumente by Glenwood High School in Durban.

Dít kom nadat ’n bom Woensdag gebars het met nuus dat twee o.14-rugbyspelers van dié KwaZulu-Natalse spogskool inderwaarheid 17 en 18 jaar oud is.

Dr. Andri Barnes, skoolhoof van Glenwood High School, het Woensdag in ’n kort omsendbrief aan ouers gesê vier van die skool se gr. 8-leerlinge is met onmiddellike effek geskors.

Al vier het hulle glo skuldig gemaak daaraan dat hulle die skool mislei het oor hul regte ouderdomme.

“Ná ’n ondersoek wat deur dr. Barnes gelei is, is dit ongelukkig onder ons aandag gebring dat vier seuns wat vanjaar as gr. 8’s by die skool ingeskryf is, hul dokumente vervals het en oor hul ouderdomme gelieg het om toelating tot Glenwood High School te verkry,” lui die omsendbrief.

“Die seuns is uit die skool gehaal met onmiddellike effek, hangende die uitkomste van dié saak.”

Twee van die leerlinge het verlede jaar as 16- en 17-jariges vir die Haaie in die o.13-Cravenweek-toernooi in Kimberley uitgedraf.

Dié span het toe in die nie-amptelike eindstryd die Westelike Provinsie met 26-24 getroef.

Hulle was boonop by Glenwood Preparatory School (Glenwood Prep) met beurse vanaf Durban High School (DHS), maar het vroeër vanjaar ná enkele dae by DHS oorgeskuif na Glenwood High School.

Die welstand en toekomstige onderrig van dié leerlinge bly ’n prioriteit vir Glenwood High School.

Dié skuif het bande tussen die twee skole versuur.

Glenwood High School en DHS is tradisionele aartsvyande wat jaarliks in ’n interskolesportdag kragte meet.

Dié sportdag is egter in Februarie gekanselleer nadat DHS ontevrede was met Glenwood High School wat die twee rugbyspelers gevat het.

Vroeër Woensdag het Noël Ingle, hoof van Glenwood Prep, in ’n verklaring gesê die skool bevestig die leerlinge was inderdaad ouer as wat hulle voorgegee het.

Ingle, wat ook die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Skolerugbyvereniging (Sasra) is, het spelers, ouers, beamptes en toeskouers van hul teenstanders om verskoning gevra.

Glenwood High School sê egter dat hy steeds dié leerlinge sal dophou.

“Die welstand en toekomstige onderrig van dié leerlinge bly ’n prioriteit vir Glenwood High School,” het die skool gesê.

Die twee seuns wat verlede jaar vir die Haaie se o.13-Cravenweekspan uitgedraf het, is uitgevang nadat hulle vir beendigtheidstoetse gestuur is wat hul werklike ouderdomme bevestig het.

Meer oor:  Cravenweek  |  Skolerugby  |  Glenwood High School  |  Skorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.