Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Parkies en Affies se atlete wys hul staal

Die nuwe nasionale Superskole-atletiekreeks het Vrydag sy buiging gemaak toe die eerste ronde by die Universiteit van Pretoria (Tuks) se L.C. de Villiers-stadion gehou is.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool se lemnaeler, Ntando Mahlangu, het die 800 m en die 400 m vir o.19’s gewen.Foto: Frans Lombard

Nie minder nie as 43 skole vanuit Gauteng, Noordwes, Noord-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo het sake uitgespook om ’n plek in die eindronde te bespreek. Dít vind in Februarie 2020 plaas.

Elke span mag net 15 spanlede hê. Die punte wat die atlete op die Absa-tabel behaal sal die wenners bepaal.

Die Hoërskool Klerksdorp se Kayla van den Bergh het geen probleem gehad om haar teenstanders te klop in die 100 m-hekkies vir o.19’s nie.Foto: Frans Lombard

Die Hoërskool Menlopark se A-span het met die louere in die algehele afdeling weggestap. Prestige College van Hammanskraal was tweede en Helpmekaar Kollege van Johannesburg derde.

Die Parkies se dogters het ook die meisies-afdeling gewen nadat hulle sterk teenstand van die Afrikaanse Hoër Meisieskool afgeweer het.

Die Hoërskool Menlopark se Reynard Strauss (middel) was soos ‘n koeël uit die blokke om die o.19’s se 110 m-hekkies te wen in 14.19 sekondes.Foto: Frans Lombard

Die Afrikaanse Hoër Seunskool het ’n wegholoorwinning in die seuns-afdeling behaal, met die atlete van Prestige College wat hier tweede was. Parkies was derde.

Die Parkies het die o.19 seuns se 110 m-hekkies oorheers waar hulle met ’n eerste en tweede plek weggestap het.

Reynard Strauss het die wenstreep eerste oorgesteek in 14.19 sekondes, met sy skoolmaat Dylan Coetzee wat tweede was in 14.40.

Die 400 en 800 is deur Affies se Paralimpiese atleet en wêreldrekordhouer, Ntando Mahlangu, gewen.

Dié lemnaeler het eersgenoemde in 47.41 sek. gewen en toe weer bo klaargemaak in die 800 in 1:51.05.

Die Hoërskool Waterkloof se Cassidy Lacy het alles in die stryd gewerp in die 100 m (o.16), waar sy gewen het in 12.16 sek. Prestige College se Nosipho Malinga was tweede in 12.21. Dié Klofie het ook ’n silwermedalje in die 200 m behaal, waar sy agter die Hoërskool Randburg se Kayla le Grange geëindig het. Le Grange het gewen in 24.21 met Lacy tweede in 24.98.

Dit was ook ’n goeie dag op die kantoor vir die Blou Tornado se Juwan Blignaut.

Hy het ’n uitstekende oorwinning in die 1 500 (o.19) behaal in 4:01.32 en was tweede in die 800 in 1:54.22.

Hoërskool Klerksdorp se Kayla van der Bergh het nie veel probleme gehad om haar teenstanders uit te stof in die 100 m-hekkies (o.19) nie. Sy het die stophorlosie op 13.89 sek. tot stilstand gebring, voor Affies se Charlize Eilerd wat tweede was in 14.49.

Van der Bergh was ook vyfde in die 100 m in 12.54. Dié nommer is gewen deur die Hoërskool Overkruin se Odette van Wyk in 12.16.

Helpmekaar Kollege se Simone de Wet het genoeg in die tenk gehad om die 100 m-hekkies (o.16) te wen in 14.20.

Affies se Kruger van Reenen (o.16) was weer die beste onder die seuns in die korthekkiesnommer in ’n haastige tyd van 13.79.

Klerksdorp se Henru Olivier het sake oorheers in die 200 (o.16) in 21.20 en was naasbeste in die 100 in 10.78.

Hoërskool Garsfontein sal ook beïndruk wees met die vertoning van Cyla Botha in die 800 (o.16). Sy het hier gewen in 2:14.99, terwyl Hoërskool Montana se Carmie Prinsloo die eweknie vir o.19’s gewen het in 2:12.91.

Connor Annandale van die Helpies was in sy eie klas in die hoogspring (o.16). Hy het oor die dwarslat geseil op ’n hoogte van 1,98 m. Brian Raats van die Garsies was tweede met 1,90 m.

Gayisa Maswangiya van Vorentoe High School het die skare op hul voete gehad in die o.19’s se hoogspring waar hy eindelik afgesluit het met ’n hoogte van 2,10 m.

Net so het Zonica Lindeque van Randburg uitgetroon in die gewigstoot (o.16) met ’n afstand van 15,67 m met Monnas se Cian de Villiers wat die seuns-afdeling gewen het met 18,40 m.

* Skole vanuit die Wes-Kaap en Oos-Kaap sal op 5 Oktober by Groenpunt-stadion in Kaapstad meeding om ’n plek in die eindronde.

Die spanne wat daar kwalifiseer sal dan volgende jaar by die L.C. de Villiers-stadion onder die vaandel van die Suide swaarde met die spanne van die Noorde kruis.

* Dié skole het vir die eindronde gekwalifiseer:

Gekombineerd: Hoërskool Menlopark (32 713 punte), Prestige College (32 073), Helpmekaar Kollege (30 957), Hoërskool Waterkloof (29 813), Hoërskool Kempton Park (29 702), Hoërskool Garsfontein (29 567), Hoërskool Monument (29 240), Hoërskool Zwartkop (28 906), Hoërskool Klerksdorp (28 620), Hoërskool Dr. Malan (28 512).

Seuns: Afrikaanse Hoër Seunskool (16 947 punte), Prestige College (15 780), Hoërskool Menlopark (15 725), Hoërskool Garsfontein (15 519), Hoër Tegniese Skool Louis Botha (15 467), Hoërskool Monument (14 796), Helpmekaar Kollege (14 712), Hoërskool Waterkloof (14 178), Vorentoe High School (14 103), Hoërskool Kempton Park (14 059).

Meisies: Hoërskool Menlopark (16 988 punte), Afrikaanse Hoër Meisieskool (16 581), Prestige College (16 293), Helpmekaar Kollege (16 245), Hoërskool Kempton Park (15 643), Hoërskool Waterkloof (15 639), Hoërskool Noordheuwel (15 540), Hoërskool Zwartkop (15 239), Hoërskool Montana (15 176), Hoërskool Dr. Malan (15 007).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.