Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Parkies, Helpies wil geskiedenis maak

Die Hoërskool Menlopark en Helpmekaar Kollege sal elkeen ’n stukkie geskiedenis najaag wanneer hul eersterugbyspanne Saterdag op die veld draf.

Die Virsekerbeker-reeks bereik dan sy hoogtepunt wanneer die eindstryde in die onderskeie kategorieë by die Hoërskool Marais Viljoen in Alberton beslis word.

Die Hoërskool Menlopark se kookwater-heelagter, Niel Beukes, kan ’n sleutelrol vir sy span in die Virsekerbeker-eindstryd teen Helpmekaar Kollege speel. Foto: Frans Lombard

Die Parkies het hul visier op ’n eerste trofee in dié reeks. Dié skool kon sedert sy stigting in 1963 nog nooit daarin slaag om die beker omhoog te hou in die Beeld-trofee, Direkteurstrofee of Administrateursbeker, soos die reeks voorheen bekend gestaan het, nie.

Dié naweek sal die 99ste eindstryd in dié prestigeryke kompetisie wees.

Menlopark maak sy eerste verskyning in die eindstryd sedert 1991 toe die Hoër Tegniese Skool Middelburg hom met 18-10 geklop het.

Die Pretorianers het verlede week die eerste keer sedert 2011 die Hoërskool Garsfontein getroef met ’n wegholsege van 72-40 en twee weke gelede die eerste keer nóg die Hoërskool Monument se eerste span laat les opsê.

Monnas is die verdedigende kampioenspan, maar sal nie die kans kry om sy titel te verdedig nie nadat Helpies hom in die halfeindstryd met 27-22 verslaan het.

Helpmekaar het in 2017 die Virsekerbeker-trofee vir Groot Skole omhoog gehou voordat die formaat verander en hy in 2018 tot die reeks se Beker-afdeling bevorder is. Hy het in sy eerste seisoen in die hoofafdeling weer die eindstryd gehaal, waar Monnas se Wit Bulle hom met 57-11 oorrompel het.

Vanjaar sal die Johannesburgers egter oor die laaste hekkie wil seil en vir verlede jaar se teleurstelling wil vergoed.

* In die Plaat-afdeling van die reeks wag ’n taai stryd tussen die Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen en die Hoërskool Eldoraigne.

Die Vossies het hul plek in die eindstryd beklink met ’n naelskraapse oorwinning van 12-8 oor die Hoërskool Rustenburg, terwyl die Eldo’s se Groen Drake die Hoërskool Montana met 29-23 verras het nadat hulle in die ander halfeindstryd met 10-23 agter was.

Die Vossies het in Mei die Eldo’s net-net met 30-25 in ’n opwindende stryd getroef.

Die span van Tzaneen het verlede jaar in die Skild-afdeling se eindstryd met 20-29 teen Hoërskool Oos-Moot verloor en sal dié keer nie met leë hande wil terugkeer huis toe nie.

* Die Hoërskool Hugenote van Springs en die Hoërskool Middelburg sal sake in die Skild-afdeling uitspook.

Die Middies het die Heidelberg Volkskool met 28-17 in die halfeind geklop, terwyl Hugenote vir een van die opskuddings in die reeks gesorg het deur die Hoërskool Lichtenburg met 19-17 tot oorgawe te dwing.

* Die Hoërskool Pietersburg sal ook hoop om op alle silinders te vuur wanneer hy in Afdeling 2 se eindstryd teen die Ligbron Akademie vir Tegnologie van Ermelo te staan kom.

* Saterdag se eindstryd-program vir eerste spanne by die Hoërskool Marais Viljoen is:

A-veld:

08:30: Skild – Hugenote (Springs) t. Hoërskool Middelburg;

10:30: Plaat – Hoërskool Ben Vorster t. Hoërskool Eldoraigne;

12:30: Beker – Hoërskool Menlopark t. Helpmekaar Kollege.

B-veld:

Afdeling 2 – Ligbron Akademie t. Hoërskool Pietersburg.

Meer oor:  Skolerugby  |  Virsekerbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.