Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Spanne se ‘verstote’ nr. 10’s slaags

Die keurders van die Suid-Afrikaanse Skolerugbyspan het dalk hul neuse opgetrek vir Kade Wolhuter, maar Saterdag kry hy die geleentheid om vir hulle tong uit te steek.

Kade Wolhuter, losskakel van Paul Roos, neem twee spelers van Wynberg Boys’ High School verlede maand op sleeptou. Foto: Gallo Images

Dié losskakel draf dan vir Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch uit teen die besoekende Grey-kollege. Hy was waarskynlik die grootste uitblinker by die onlangse Cravenweek-toernooi in Bloemfontein, toe hy vir die Westelike Provinsie diens gedoen het. Maar omdat dit vroeër die jaar reeds rugbaar geword het dat hy aanstaande jaar in Frankryk by Montpellier gaan speel, het hy nie ’n regmerkie agter sy naam gekry nie.

Wolhuter se regstreekse teenstander, FC du Plessis, was self die afgelope seisoen een van die voorste losskakels in Suid-Afrikaanse skolerugby. Ook hy is nie vir hoër louere oorweeg nie, omdat hy hom tot die Franse klubspan Toulon verbind.

Ryno Combrinck, Paul Roos se hoof van rugby, is in sy noppies om Wolhuter beskikbaar te hê.

“Ek dink die twee beste losskakels in skolerugby speel Saterdag. Om iemand van Kade se kaliber beskikbaar te hê, is ’n pluspunt vir ons.”

Combrinck sê indien sy span hul kanse benut, kan hulle wen.

“Ons gaan ’n bietjie geluk nodig hê. Die laaste klompie jare was daar geleenthede (teen Grey) wat ons dalk nie altyd gebruik het nie.”

FC du Plessis trek ore plat in Mei teen die Afrikaanse Hoër Seunskool. Foto: Gallo Images

Paul Roos is sonder die slot Dylan de Leeuw, senter Tiaan Pretorius en die agtsteman Jarod Cairns, wat vir die SA Skolespan en die SA naasbestes diens doen.

Grey, wat as die voorste skolespan in die land beskou word, moet selfs sonder ’n rits staatmakers klaarkom, wat by die SA Skole en SA Skole A-span betrokke is. Hy word nietemin steeds as die gunsteling beskou.

Tog sal die verlies aan sy invloedryke kaptein, die agtsteman George Cronjé, stut Jan-Hendrik Wessels en die haker, André-Hugo Venter, beslis gemis word. Boonop is sy hoofafrigter, Wessel du Plessis, by die SA A-skolespan betrokke.

Maar, sê Tewis de Bruyn, wat die leisels in Du Plessis se afwesigheid hou, Grey beskik oor baie diepte.

“Natuurlik gaan ons die sterspelers mis, maar ons het volle vertroue in die ouens wat hul plekke inneem. Ons laat die ouens weet dat hulle goed genoeg is.”

Die Bloemfonteiners het die afgelope drie jaar vir Paul Roos ore aangesit, al was dit elke keer slegs met twee punte, met die Stellenbossers wat in 2015 laas (19-12) koning gekraai het.

* Spanne:

Paul Roos: Cade Croy, Ronin Daniels, Luke Burger, Ruben Labuschagne (k), Andrew Pegg, Kade Wolhuter, Xander Botha, André Smit, Calvyn Louis, Arno Heenop, Andreas Wild, Daniel Swart, Corné Weilbach, Meiring Ebersohn, Paul Spangenberg.

Grey-kollege: Franco Knoetze, JD Odendal, Ian Small-Smith (k), Lesley Botha, Marcell Muller, FC du Plessis, Juan Dee Oliver, Janco Cloete, Deon le Roux, Duan Ludick, Danwich Beukes, Hendré Kramer, Petrus Naudé, Ricardo Fourie, Tielman Nieuwoudt.

Afskop: 13:55 (SS 10).

Meer oor:  Skolerugby  |  Interskole  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.