Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Rekords spat op Tuks se Top-10-byeenkoms

Nie minder nie as 37 byeenkomsrekords is opgestel op die Universiteit van Pretoria se Top-10-byeenkoms wat Woensdag in die L.C. de Villiers-stadion gehou is.

Die Hoërskool Noordheuwel se Dané Roets (o.19’s) was oudergewoonte weer een van die groot uitblinkers op die veld. Sy het die gewigstoot gemaklik gewen met ’n skitter-poging van 14,85 m, en haar naaste teenstander was Bodine Degli-Bertiwat van die Hoërskool Menlopark met 12,78 m.

Die Hoërskool Garsfontein se Wian Kemp het die rekords in die 100 m- en die 300 m-hekkies vir o.15’s op Tuks se Top-10-byeenkoms laat spat. Foto: Frans Lombard

Ofskoon sy die rekord in die diskusgooi gemis het, het Roets steeds genoeg skietgoed gehad om ook hier met 45,33 m goud te verower.

Dit was eenrigtingverkeer vir Chané van Zyl van die Hoërskool Oos-Moot in die spiesgooi (o.19’s) waar sy ná haar beste poging van 46,26 m met die louere weggestap het. Dit is ’n byeenkomsrekord. Chandi Mulder van Tuks se uitnodigingspan was naasbeste met 40,00 m.

Van Zyl het met 11,29 m ook ’n sewende plek in die gewigstoot behaal.

Lythe Pillay van die King Edward VII School, wat in 2018 as 15-jarige die Suid-Afrikaanse rekord in die sub-jeug-afdeling van die 200 tot 21.36 verbeter het, was weer die ene spoed met sy wegholoorwinning in die 400 m (o.17’s). Hy het die wenstreep in 47.10 sek vir sy nuwe rekord oorgesteek.

Mukhethwa Tshifura van Tuks se sportskool het ’n nuwe byeenkomsrekords in beide die 100 en 200 (o.16’s) opgestel nadat hy die wenstreep in onderskeidelik 10.51 en 21.59 sekondes oorgesteek het.

Net so het Bradley Nkoana (o.15’s) dieselfde prestasies behaal deur die 100 in ’n nuwe rekord van 10.80 te wen en ook goud in die 200 in 21.69 te verower.

Die Hoërskool Randburg se belowende Kaili Botje het weer vir die o.14’s met haar rekords in die 100 (12.42) en 200 (25.15) uitgeblink.

Wian Kemp van die Hoërskool Garsfontein was soos ’n koeël uit die blokke om die 100 m-hekkies en 300 m-hekkies (o.15’s) in onderskeidelik 12.80 en 38.22 – albei nuwe rekords – kaf te draf.

Potchefstroom Gimnasium se Karmen Fouché het weer haar veelsydigheid gewys met ’n sege in die verspring (o.17’s), waar sy die maatband laat strek het tot 5,87 m en dit opgevolg het met ’n silwermedalje in die hoogspring met ’n hoogte van 1,65 m. Haar skoolmaat, Jeane Visser het hier met goud gespog nadat sy op ’n hoogte van 1,70 oor die dwarslat is.

* Die Hoërskool Menlopark het die algehele afdeling van die byeenkoms gewen met ’n gemiddeld van 956 punte, terwyl Randburg kort op hul hakke was met 932, en Helpmekaar Kollege van Johannesburg met 924 punte vir die derde plek uitgeblink het.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool het die pyp gerook in die seunsafdeling met 927 punte, terwyl die Parkies hier naelskraap die tweede plek voor KES opgeraap het met 841 punte, terwyl die Johannesburgers derde met 840 was.

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool (907) het met die eerste plek gespog in die meisie-afdeling waar hy sterk teenstand van die Parkies se A-span (904) en B-span (874) afgeweer het.

Meer oor:  Pretoria  |  Tuks  |  Atletiek  |  Skoleatletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.