Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
SA skolerugby ontnugtering vir Kiwi’s

Nieu-Seelandse spanne het die skok van hul lewe gekry toe hulle in 2018 besef het op watter vlak Suid-Afrikaanse skolerugby is teenoor die res van die wêreld.

Só meen Waka Petera, hulpafrigter van Napier Boys’ High School, wat vanjaar vir die tweede keer saam die skool na Suid-Afrika gereis het om aan die Wêreld-skolerugbyfees te kom deelneem.

Napier Boys High van Nieu-Seeland se skrumskakel Angus Kilmister druk een van sy span se vyf onverdoelde drieë. Foto: Frans Lombard

Napier het Woensdag in ’n taai herontmoeting met Boland Landbou die knie met 25-30 gebuig.

In 2018 het hulle hul rieme lelik styf geloop teen die Bolanders toe hulle met 26-59 vasgeval het en met 37-42 deur Hoërskool Monument van Krugersdorp verloor het.

Petera meen dis die grootste skok wat sy span in baie jare gekry het.

“As ons nou terugkyk vermoed ek ons was ’n jaar te vroeg by die toernooi,” het Petera Woensdag aan Netwerk24 gesê.

“Ons was glad nie voorbereid vir hoe vinnig Suid-Afrikaanse skoolseuns rugby speel nie. Ons is in 2018 terug huis toe met ’n hele nuwe waardering vir Suid-Afrikaanse rugby.”

Ná afloop van die toernooi wat, in 2018 by die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) gehou is, het Napier juis hul benadering van hoe hulle speel aangepas en is daarna as die naasbeste skolespan in Nieu-Seeland gekroon.

“Ons het ’n ander span hier as verlede jaar, maar verlede jaar se Wêreld-skolerugbyfees het ons wakker laat skrik en ook reg gekry vir ons eie liga in Nieu-Seeland, waar ons die jaar as die naasbeste skolespan in die land afgesluit het,” sê hy.

“Ons is op die oomblik die tweede beste span in ons land en die ervaring wat ons in Suid-Afrika opgedoen het, was deurslaggewend om dit te vermag.”

Die mooi ding van die sport is dat dit nie saak maak hoe groot jy is nie, dit maak nie saak van watter land jy kom nie, dit hang net af van of jy op die dag opdaag en die 110% gee wat vereis word.

Volgens Petera het hulle span ’n nuwe beleid wanneer dit by hul rugby kom.

“Ons praat beslis in Nieu-Seeland nou van dat ons nie net vinnig wil speel nie, maar ons wil Suid-Afrika-vinnig speel. Dis hoe ons elke wedstryd benader.

“Ons het dit alles terug na Nieu-Seeland geneem en was gretig om vanjaar terug te kom.”

Brendon Ratcliffe, hul hoofafrigter, is vriende met Heyneke Meyer en gevolglik het hulle betrokke geraak het.

Die Kiwi’s se monde hang steeds oop elke keer wat hulle in Suid-Afrika op die veld uitdraf en meen die veelsydigheid van al die spanne se spelers en die verskillende kulture is wat die toernooi ’n sukses sal maak.

“Die mooi ding van die sport is dat dit nie saak maak hoe groot jy is nie, dit maak nie saak van watter land jy kom nie, dit hang net af van of jy op die dag opdaag en die 110% gee wat vereis word,” sê Petera.

“Ons het beslis nie vanjaar al die pad Stellenbosch toe gereis om toeriste te wees nie. Ons is hier om ons eie vermoëns uit te daag en so ook Suid-Afrikaanse skolerugby.”

Napier sal Saterdag teen Paul Roos Gimnasium te staan kom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.