Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
SA spanne bekend vir skolerugbyfees
Die Wêreld-skolerugbyfees word in 2019 by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch aangebied.Foto: Verskaf

Die tien spanne wat in 2019 die Suid-Afrikaanse vlag moet laat wapper by die tweede weergawe van die Wêreld-skolerugbyfees is eindelik bekend.

Die toernooi, wat volgende jaar van die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) tot sowat 30 km weg na Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch sal skuif, sal weer tien van Suid-Afrika se voorste skolerugbyspanne insluit wat van 25 tot 30 Maart sake teen spanne van oorsee sal uitspook.

Die Stellenbossers en Sacs (South African College Schools) sal die twee nuwelinge wees, terwyl die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) van Pretoria, Boland Landbou, Glenwood High School van Durban, Grey-kollege van Bloemfontein, Hilton College, die Hoërskool Monument van Krugersdorp en Paarl Gimnasium hul tweede verskynings op die toernooi sal maak. Verder sal ’n Suid-Afrikaanse uitnodigingspan ook gekies word om die buitelanders te pak.

Boishaai, die Hoër Landbouskool Oakdale en die Hoërskool Outeniqua sal nie volgende jaar terugkeer nie.

Ek is al 11 jaar by die skool betrokke en kan nie aan ’n enkele keer dink wat ons gasheer was vir ’n Nieu-Seelandse span nie.
Stephan Jordaan

“Ons kan nie wag om die Wêreld-skolerugbyfees aan te bied nie,” het Stephan Jordaan, Paul Roos se hoof van sport, gesê.

“Die formaat waarvolgens die Suid-Afrikaanse spanne teen internasionale spanne meeding, is baie opwindend. Ek is al 11 jaar by die skool betrokke en kan nie aan ’n enkele keer dink wat ons gasheer was vir ’n Nieu-Seelandse span nie, maar ons het nou eindelik die geleentheid om te sien hoe sterk die plaaslike spanne werklik is in vergelyking met die res van die wêreld.”

In 2018 het Suid-Afrika in 18 van die 20 wedstryde koning gekraai met die teenstanders wat in die algemeen met rooi gesigte gelaat is en in totaal net 294 punte kon aanteken terwyl hulle 1 022 punte afgestaan het.

Nico Serfontein, die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se elitespelers-ontwikkelingsprogram, meen dit was ’n maklike besluit om ’n uitnodigingspan in te skryf.

“Van ons spelers kom nie van skole wat as tradisionele rugbyskole beskou word nie, so dis die perfekte geleentheid om hulle in aksie te sien teen sterk buitelandse skole waarteen hulle normaalweg nie sou speel nie, terwyl dit terselfdertyd ook ons diepte gaan toets terwyl ons voorberei vir ’n internasionale reeks in Junie,” het Serfontein gesê.

Meer oor:  Boishaai  |  Paul Roos  |  Wêreld-Skolerugbyfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.