Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Saints wéér Vrystaat se T20-kampioen

Ondanks die verlies van ’n klompie sleutelspelers, het St. Andrew’s se krieketspan die afgelope naweek vasgebyt om sy titel as Vrystaatse kampioen van die nasionale T20-skolereeks suksesvol te verdedig.

Pheko Moletsane het met die bal vir St. Andrew’s teen Grey-kollege uitgeblink. Foto: Gallo Images

Saints, wat ook nasionale kampioen is, kom volgende maand in streek-eindstryd teen die Hoërskool Noord-Kaap te staan om te bepaal wie die Knights in die nasionale toernooi in Pretoria gaan verteenwoordig.

Grey se skamele 96/7 was so hittete genoeg.

Saints het aan die einde naelskraap met net drie balle oor met drie paaltjies geseëvier.

Grey het die loot gewen en gekolf.

Hy was vroeg in sy kolfbeurt in die knyp op 8/4, nadat die draaibalbouler Pheko Moletsane drie paaltjies laat kantel het.

Een van sy slagoffers was Danwich Beukes, wat vir nul uitgehaal is, nadat hy Saterdag teen Kroonstad-gekombineerd 133* van net 69 balle (11x4, 7x6) gemoker het.

Danwich Beukes trek Saterdag los met die kolf. Foto: Gallo Images

Beukes, seun van die voormalige Vrystaatse rugbyspeler Joe Beukes, het die beurt begin teen die span van Kroonstad, maar in die eindstryd vierde gaan kolf.

St. Andrew’s (97/7) het in die eindstryd vyf lopies van die laaste boulbeurt benodig om te wen.

Nathan van der Nest (5*) het die wenlopies van die derde aflewering van die laaste boulbeurt aangeteken.

Met Saints op 59/6 het Grey nog geglo hy het ’n kans om die wedstryd te wen.

Reece van Staden (19*) en JD Bruwer (10) het ’n rukkie vasgeskop, voordat Bruwer sy paaltjie verloor het.

Gregg Hobson, afrigter van Saints, erken dit sal altyd moeilik wees om die leemtes te vul wat spelers soos Gerald Coetzee en Garnett Tarr, wat die laaste paar seisoene staatmakers in die span was, gelaat het.

“Ja, ons het ’n paar belangrike spelers verloor. Dit is egter mos maar hoe dit met skolesport gaan, jy het elke jaar nuwe spelers. Maar die ouens wat ons het, het die kans aangegryp,” sê Hobson.

Dié breier sê hy’s die eerste om te erken dat sy span se vertoning nie foutloos was nie en dat sekere aspekte steeds aandag verg.

“Ons het te veel paaltjies vroeg in ons kolfbeurt verloor. Ek was nietemin tevrede met ons boul- en veldwerk.”

Die nasionale toernooi word van 15 tot 17 Maart by die Universiteit van Pretoria beslis.

Meer oor:  T20  |  Skolekrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.