Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Saru skrap ál sy jeugweke vir 2020

Die o.18-Cravenweek-toernooi sal vir die eerste keer sedert sy eerste weergawe, in 1964, nie vanjaar beslis word nie.

Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Dinsdag amptelik al sy jeugweke vir 2020 geskrap het te midde van die Covid-19-pandemie.

Vanjaar se o.18-Cravenweek-toernooi en al die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se ander jeugweke is weens die Covid-19-pandemie afgestel. Foto: Gallo Images

Die Cravenweek-toernooi vir hoërskole was geskeduleer om in Julie in Port Elizabeth gehou te word, terwyl die o.18-Akademieweek van 14 Junie tot 18 Junie by die Jeppe High School for Boys in Johannesburg sou plaasvind.

“Hierdie is ongekende tye, nie net vir rugby in Suid-Afrika nie, maar in alle sfere van die lewe wêreldwyd,” sê Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, in ’n verklaring.

Saru het die ondersteuning van al die plaaslike franchises en unies, sowel as die werkgewersorganisasie, Sareo, MyPlayers (wat beroepspelers verteenwoordig) en die uitsaaier SuperSport gehad in sy besluit om sy jeugweke en ook ander kompetisies in 2020 te kanselleer.

“Die besluit om die kompetisies en toernooie te kanselleer is in ooreenstemming met wat in sportkodes wêreldwyd gebeur en ons is nie daarteen immuun in Suid-Afrika nie.”

Ander toernooie en reekse wat van die baan is, is die provinsiale o.13- en o.17-sewestoernooie, die Suid-Afrikaanse Skole-o.18-kompetisie, die o.19-provinsiale week, sowel as die provinsiale o.20-kompetisie en die provinsiale seweskompetisie.

Die Covid-19-pandemie sal sonder twyfel groot finansiële implikasies hê waarvan die effek eers in ’n latere stadium duidelik sal word.

Saru sê egter dat hy hoopvol is dat hy wel vanjaar tussen Junie en Augustus ’n kompetisie sal kan aanbied, wat as ’n alternatief vir die Superrugby-reeks en die Pro14-reeks sal dien. Dít sal tussen die vier Super-franchises en die twee Pro14-spanne beslis word.

Saru is ook optimisties dat die Springbokke (mans en vroue) se toetse vanjaar sal plaasvind, asook die laaste vier toernooie in Wêreldrugby se sewesreeks.

Verder hoop hy ook dat die Curriebeker-reeks, sowel as die Eersteliga-afdeling, die provinsiale o.21-kompetisie, die SuperSport-uitdaagreeks en die vroue se provinsiale reeks steeds gehou sal kan word.

Meer oor:  Cravenweek  |  Skolerugby  |  Koronavirus  |  Covid-19  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.