Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
‘Seuns herhaal dalk matriek vir rugby’

Omdat daar weens die Covid-19-pandemie vanjaar nog bitter min skolerugby was en die kans vir wedstryde later vanjaar skraal bly, kan verskeie seuns besluit om hul matriekjaar in 2021 te herhaal in die hoop om dán blootstelling te kry.

Dít is die mening van Jaco Dames, direkteur van rugby by die Hoërskool Diamantveld in Kimberley.

Grey-kollege se Tiaan Jonker bars weg met ’n bal teen die Afrikaanse Hoër Seunsskool in 2019 in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Weens die uitbreek van die virus is die skole al sedert Maart gesluit en buitemuurse aktiwiteite soos rugby is van die baan.

Vir spelers in matriek, wat gehoop het dat universiteite hulle gaan raaksien en ’n beurs aanbied, is die opskorting van rugby ’n gevoelige terugslag.

Rugby was vir baie van daardie ouens ’n manier om ’n beurs te kry.
Jaco Dames

“Universiteite gaan waarskynlik minder beurse toestaan, want hulle het nie die seuns gesien speel nie. Omdat daar nie meer ’n nasionale o.19-liga is nie, is daar vir baie ouens niks ná skool nie.

“Hulle kry goeie blootstelling by skole, omdat omtrent al die wedstryde (op die internet) gestroom word. Rugby was vir baie van daardie ouens ’n manier om ’n beurs te kry,” sê Dames.

“Daar is ook nie regtig ’n goeie klubstelsel nie, so as ’n speler nou uit die skool gaan, raak hy verlore. Hulle kan sê wat hulle wil, maar die punte van ’n kind wat reeds twee maande se skoolwerk verloor het, gaan nie dieselfde (as voor die staat van inperking) wees nie.

Wessel du Plessis, afrigter van Grey-kollege se eerste rugbyspan. Foto: Mlungisi Louw

“Dis die ouers se besluit of hulle wil hê hul kind moet die jaar oordoen, maar ek sal hulle nie verkwalik nie. Veral die matrieks is van baie dinge ontneem,” het Dames gesê.

Die skoleliga in die Noord-Kaap is vir vanjaar geskrap, maar Dames hoop dat ander wedstryde wel later vanjaar toegelaat sal word. Dan sal Diamantveld sy jaarlikse derbies, teen Noord-Kaap, Upington en Duineveld, wil speel.

Vir seuns wat nie noodwendig ná skool rugby gaan speel nie, maar vir wie hul matriekjaar die kroon span as speler, is dié pandemie net so ’n terugslag, meen Wessel du Plessis, afrigter van Grey-kollege.

Grey word allerweë as die voorste skolespan in die land beskou en sy jaarlikse wedstryde teen spanne soos Paul Roos Gimnasium, Paarl Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl lok reuse-belangstelling. Daar is gewoonlik meer toeskouers by dié derbies as by baie beroepswedstryde.

“Baie spelers kry gewoonlik danksy rugby of krieket ’n beurs om verder te studeer. So ’n speler sou dalk Varsitybeker gespeel het en dit was vir hom ’n platform om sy talente uit te stal en ’n beurs te kry.

Pieter Rossouw, afrigter van Paarl Gimnasium. Foto: Argief

“Dan is daar die ou vir wie sy matriekjaar alles is. Hy het klaar besluit hy gaan ná skool ’n dokter word of gaan boer en gaan nie verder rugby speel nie. So ’n ou sou alles gedoen het om in sy matriekjaar sy beste rugby te speel en om sy span te laat goed vaar,” sê Du Plessis.

Die Vrystaatse Hoërskole-rugbyvereniging het by monde van sy voorsitter, Roelf Meyer, bevestig dat daar geen kragmetings vanjaar sal plaasvind nie. Hoewel Grey nie in die liga meeding nie, en Du Plessis erken daar is ’n moontlikheid dat kragmetings later vanjaar beslis kan word, het hy gesê die moontlikheid daarvoor is skraal.

Ook Pieter Rossouw, voormalige Springbok-vleuel en deesdae afrigter van Paarl Gimnasium, het gesê sy spelers is teleurgesteld, maar hy dink dat die meeste van hulle geholpe is om in 2021 verder te studeer of selfs by unies gekontrakteer te word.

“Die ouens van die unies doen nogal goeie navorsing oor die spelers en sal weet wat beskikbaar is. Maar baie spelers – van wie ons al die afgelope jare ’n paar gehad het – ontwikkel eers later. Dit is ouens wat van posisie verander het, of net eers in matriek hul beste rugby speel. Hulle word nou van ’n kans ontneem.

Spelers van Paarl Gimnasium vier verlede jaar hul oorwinning in die groot derby teen Boishaai. Foto: Gallo Images

“Ons het letterlik net twee wedstryde gespeel voordat die inperking begin het, en die spelers bly hoopvol dat ons dalk later in die jaar een of twee (wedstryde) sal kan speel,” het hy gesê.

* Die Griffons-hoërskolerugbyvereniging hoop om in die derde kwartaal hul ligabepalings te speel – mits dit (deur die owerhede) toegelaat word, het Roean Bezuidenhout, afrigter van Welkom-Gimnasium, gesê.

“Ek ontvang baie boodskappe van spelers wat vra wanneer die liga gespeel gaan word. Daar is ’n hele aantal spelers wat afhanklik is van die blootstelling om ’n beurs by ’n universiteit of technikon (universiteit van tegnologie) te kry.”

Meer oor:  Skolerugby  |  Paarl Gimnasium  |  Grey-Kollege
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.