Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Skolefees: SA spanne bult spiere

Die Hoërskool Monument van Krugersdorp het vir Hartpury College van Engeland met 32-21 uit die weg gevee op die eerste dag van die Wêreld-skolerugbyfees wat in Stellenbosch gehou word.

Die Suid-Afrikaanse spanne het, soos verwag, die oorhand gehad, hoewel die wedstryde aansienlik meer mededingend was as op die openingsdag in 2018.

Ethan Snyman van Hoërskool Monument seil oor langs die pale vir sy drie teen Hartpury College by die Wêreld-skolerugbyfees. Foto: Frans Lombard

Hartpury het aanvanklik heelwat weerstand gebied met Monnas wat boonop ná enkele minute se spel ’n groot terugslag toegedien is toe sy agtsteman en kaptein, Izan Esterhuizen, die veld weens ’n kniebesering moes verlaat. Sy toernooi is waarskynlik verby.

Monnas se haastige linkervleuel, Luan van der Walt, het die eerste punte aangeteken toe hy deur die heelagter, Herchelle Goodman, weggestuur is.

Monnas se losskakel, Byron Wentink, het sy span se voorsprong tot 8-0 vergroot met ’n strafdoel, voordat Hartpury teruggeslaan het met ’n drie teen die verloop van spel nadat ’n swak skop afgestorm is en die flank Mason Hughes gaan druk het.

Die span van Krugersdorp het egter ná hy ’n naelskraapse rustydvoorsprong van 8-7 geniet het die tempo gelig en die krane oopgedraai – iets waarmee die Britte glad nie gemaklik was nie.

Van der Walt het sy tweede gedruk met die buitesenter, Henco van Wyk, die plaasvervangers Ethan Snyman en Kagiso Nyamande wat almal daarna ook so gemaak het.

Paarl Gimnasium se linkervleuel, Prevann Isaacs, wys hakskene vir die verdedigers van die Africa Pacific Dragons. Foto: Frans Lombard

* Paarl Gimnasium het sonder te veel moeite met 50-24 met die Africa Pacific Dragons klaargespeel.

Drieë deur Wikus Janse van Rensburg, Jacques Moller, Stravino Jacobs en Joshua Kirsten het die Paarliete met die rustyd al met 24-10 laat voorloop. Onverdoelde drieë deur Jone Waisake en Tevita Ofa het die Dragons net-net in die wedstryd gehou.

Kirsten en Jacobs het albei ná rustyd hul tweede ingeryg, met Prevann Isaacs en Matthew Jacobs wat ook gedruk het, terwyl Zion Taniuelu en Shane van Wyk tevergeefs die besoekers rooi gesigte probeer spaar het met drieë.

* Glenwood High School van Durban het John McGlashan College van Dunedin, Nieu-Seeland, met 32-17 ore aangesit.

Die wedstryd het gewys dat die toevoeging van vier Nieu-Seelandse spanne moontlik ’n meesterskuif was aan die kant van die organiseerders, want dit was beslis nie eenrigtingverkeer nie.

Die Nieu-Seelanders, een van die nuwe toevoegings, het hul man gestaan teen ’n span wat in 2017 laas die knie gebuig het.

Die Durbaniete het in die eerste helfte meeste van die speelwerk gedoen, maar hanteerfoute het telkens hul ritme in die wiele gery.

Glenwood se skrumskakel, Nico Steyn, het ’n sterk vertoning gelewer en twee keer gaan druk, terwyl die plaasvervanger Martino van Wyk ’n barshou gespeel het nadat hy opgekom het en ook twee keer agter die doellyn gaan draai het.

* Die South African College High Schools (Sacs) het in ’n saai affêre vir die Zambezi Steelers van Zimbabwe met 43-24 getroef.

Die Kapenaars het nooit nodig gehad om hoër as die tweede rat oor te skakel nie en het binne minute met 12- 0 voorgeloop nadat die slotte Jordan Thomas en Enos Ndiao albei gaan druk het.

Tomas en Ndiao was hul span se beste spelers en het albei na rustyd hul tweedes ingeryg.

* Die Wêreld-uitnodigingspan, wat uit Suid-Afrikaanse spelers bestaan, het die saamgeflanste Westelike Provinsie-uitnodigingspan ’n goeie rugbyles geleer en hulle met 76-29 geslag in ’n drieëfees waar 17 keer agter die pale gekuier is.

Die Wêreld XV het 12 keer gedruk en was na 10 minute reeds met 24-0 voor, wat die grondslag vir die wegholsege gelê het.

Die flank Keke Morabe, asook die agysteman Royden Masters, die slot Jared Taylor en die plaasvervanger-skrumskakel Divan Roelofse het almal twee keer gedruk.

Puntemakers:

Monument 32 (8): Drieë: Luan van der Walt (2), Henco van Wyk, Ethan Snyman, Kagiso Nyamande. Doelskoppe: Byron Wentink. Strafdoele: Wentink. Hartpury College 21 (7): Drieë: Mason Hughes, Toby Tyson, Max Fletcher. Doelskoppe: Josh Phipps (3). Strafdoele:

Paarl Gimnasium 50 (24): Drieë: Wikus Janse van Rensburg, Jacques Moller, Stravino Jacobs (2), Joshua Kirsten (2), Prevann Isaacs, Matthew Jacobs. Doelskoppe: Jandré Burger (3), Stephan du Toit (2).

Africa Pacific Dragon 24 (10): Drieë: Jone Waisake, Tevita Ofa, Zion Taniuelu, Shane van Wyk. Doelskoppe: Hoera Stephenson (2).

Glenwood 32 (15): Drieë: Nico Steyn (2), Katleho Thomaga, Martino van Wyk (2). Doelskoppe: Jordan Hendrikse, Joe Jonas. Strafdoele: Jonas. John McGlashan College 17 (5): Drieë: Harrison Morton, Leroy Ferguson, Jack Colbourne. Doelskoppe: Andrew McKenzie.

Sacs 43 (17): Drieë: Jordan Thomas (2), Enos Ndiao (2), Rihaz Fredericks, Hlumelo Ntweni, Matthew Hayes. Doelskoppe: Matthew Hayes (2), Robin Aspleing (2).

Zambezi Steelers 24 (5): Drieë: Allan Mawande, Tinashe Hombiro, Thabonga Ngonyamo (2). Doelskoppe: Hombiro (2).

Wêreld XV-tal 76 (36): Drieë: Keke Morabe (2), Damon O’Connell, Ngia Selengbe, Royden Masters (2), Keane Galant, Sibusiso Shongwe, Jared Taylor (2), Divan Roelofse (2). Doelskoppe: Brandon Wilkie (5), O’Connell (3). WP-uitnodigingspan 29 (5): Drie: Anele Madoli, Hakeem Adams, Byron Maree, HD Stemmet, Kyle Milfad. Verdoel: Mikyle Vraagom (2).

Woensdag se program is:

10:30: Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) t. Italian All Stars (Italië).

12:30: Boland Landbou t. Napier Boys High School (Nieu-Seeland).

13:30: Hilton College t. VSA-Skolespan (Amerika).

15:00: Grey-kollege t. Christchurch Boys High (Nieu-Seeland).

16:30: Paul Roos Gimnasium t. Southland Boys High School (Nieu-Seeland).


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.