Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Rugby hervat met stryd om middernag

’n Minuut ná middernag op Vrydagoggend sal die skril blaas van ’n fluitjie die nagstilte in Magaliesburg onderbreek en sal die eerste skolerugbywedstryd in meer as ’n jaar in Suid-Afrika afskop.

Die Hoërskool Bekker sal dan in die middernagtelike ure op sy tuisveld in Magaliesburg teen die Hoërskool Fochville te staan kom.

Magaliesburg se Hoërskool Bekker gaan dié week gasheer speel vir ’n unieke middernagtelike rugbywedstryd. Foto: Getty Images

Ingevolge Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se protokol rakende die hervat van skolerugby, mag wedstryde weer van Vrydag gespeel word.

Byna 400 dae nadat die spel op skolevlak deur die Covid-19-pandemie tot stilstand geruk is, wou Bekker seker maak sy span kom heel eerste terug op die speelveld.

Volgens Johan Wandrag, eerstespan-breier van Bekker, is die saadjie vir ’n wedstryd op dié ongewone tyd geplant nadat Saru sy aanvanklike datums aangepas het.

Hy en Bobby McLeod, afrigter van Fochville se eerste span, het met die idee vorendag gekom om iets te doen wat die twee aartsvyande se wedywering sal beklemtoon.

“Ons moes eintlik al die 17de April gespeel het, maar toe het die ringkoppe alles weer uitgestel,” sê Wandrag.

“Nadat die nuwe datum vasgemaak is, het ek en Bobby gesels en op die afskop net ná middernag besluit.

“Die wedstryde tussen ons is altyd taai, maar daar heers ’n groot vriendskap tussen die skole.

“Die kinders moet weer op die veld kom. Hulle wil al so lank net speel, maar dan is daar aanhoudend iets wat hulle kniehalter.

“Die ouens sien geweldig uit daarna, maar hulle kyk ons ook maar vreemd aan oor die afskoptyd,” het Wandrag geskerts.

Nie net sal Bekker se Mambas en Fochville in die eerste skole-kragmeting van 2021 speel nie, maar dit sal ook die eerste wedstryd sedert 2019 in die Virsekerbeker-reeks wees.

Albei spanne neem in Afdeling 3 van dié reeks deel.

Die Virsekerbeker, Suid-Afrika se oudste skolerugbyreeks, sou in 2020 sy 100ste bestaansjaar gevier het, maar dit is toe weens die Covid-19-pandemie geskrap.

Dit het voorheen as die Administrateursbeker, Direkteurstrofee, Beeld-trofee en Virseker-Beeld-trofee bekend gestaan.

Die Bulle-flank Marco van Staden, wat op 1 Julie op pad is oorsee waar hy by sy nuwe klubspan, die Leicester Tigers, sal aansluit, het Bekker se vierde Springbok geword toe hy op 18 Augustus 2018 in die Rugbykampioenskap sy buiging teen Argentinië gemaak het.

Die ander Bokke wat dié skool opgelewer het, was Piet Botha (1965), Dave Frederickson (1974) en Johan Strauss (1976).

Die spelers en ander betrokkenes by die wedstryd sal by die skool oorslaap sodat die aandklokreël nie oortree word nie.

• Vir diegene wat naguiltjies is en die aksie wil volg, sal die wedstryd regstreeks op DigiTV gestroom word.

Geen toeskouers word toegelaat nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.