Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Skolerugby is uiteindelik terug!

Ná meer as ’n jaar in die Covid-19-wildernis keer skolerugby Vrydagoggend met ’n knal terug, met verskeie kragmetings in Suid-Afrika om na uit te sien.

Voor in die koor is die kragmeting tussen die Hoërskool Bekker en die Hoërskool Fochville, wat om 05:00 reeds die dou van die veld gaan speel. Dít sal amptelik die eerste skolerugby-wedstryd wees sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie daartoe gelei het dat alle skolesport in Maart 2020 gestaak is.

Dié kragmeting is as die Sunrise-beker gedoop, met die twee skole wat beoog om dit vorentoe ’n jaarlikse gebeurtenis te maak. Dié spanne wou mekaar aanvanklik kort ná middernag reeds gepak het, maar vanweë die aandklokreël kon hulle nie die nodige goedkeuring daarvoor kry nie.

Bekker sal op sy tuisveld in Magaliesburg ’n appeltjie te skil hê met sy aartsvyand nadat hy in 2019 met 19-23 teen die span van Fochville vasgeval het.

In Krugersdorp, waar die Hoërskool Monument se eeufees-toernooi ook Vrydag afskop, sal daar ook ’n paar wraakstryde wees.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool in aksie teen die Paarl Gimnasium in 2019. Albei dié skole sal die naweek by die Hoërskool Monument se eeufees-toernooi in aksie wees. Foto: Gallo Images

Een van hulle is ’n ou rekening wat vereffen sal wil word wanneer die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) en die Hoërskool Noord-Kaap in die eerste dag se hoofwedstryd slaags raak.

Affies het nog net een keer vantevore teen die Northerns gespeel. Dit was in 2011 toe hy met 22-25 die knie moes buig in Kimberley.

Hoërskool Waterkloof moes hom aan dié toernooi en sy kragmeting met St. John’s College onttrek nadat die Pretoriase skool as ’n Covid-19-brandpunt verklaar is.

St. John’s College sal gevolglik nou teen die Hoërskool Menlopark speel, terwyl die Hoërskool Garsfontein wéér die Hoërskool Nelspruit sal wil ore aansit.

Die Garsies se Bere het laas in 2015 tydens St. John’s College se Paastoernooi teen die Rhinos verloor.

In die Vrystaat sal die Hoërskool Fichardtpark gasheer speel vir nie minder nie as 79 wedstryde van o.14- tot o.19-vlak tydens sy rugbytoernooi.

Hier sal die Maritzburg College van Pietermaritzburg en Voortrekker van Bethlehem sake op die eerste dag uitspook in wat potensieel ’n drieëfees kan wees.

Die Hoërskool Hentie Cilliers sal boonop daar swaarde kruis met Landboudal in nog ’n rillerstryd.

Die Agter-Paarl speel op sy beurt gasheer vir ’n titaniese stryd tussen die Hoër Landbouskool Boland en Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch.

Die Maroen Masjien was baas in 2019, 2018 en 2017, met Boland Landbou wat laas in 2016 die pyp gerook het toe hy die eerste keer sedert 2002 die span van Paul Roos in die Eikestad getroef het.

• Al die wedstryde word regstreeks op DigiTV gestroom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.