Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Skole mag nou hul duiksakke afstof

Ná sowat sewe maande waar skolerugbyspelers nie eens naby die veld mag gekom het nie, kan hulle binnekort weer begin oefen nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) verlede week die jawoord gegee het.

Björn van Wyk van die Afrikaanse Hoër Seunskool vroeër vanjaar op die aanval teen die Hoërskool Diamantveld. Dit was een van net twee wedstryde wat Affies in hul eeufeesjaar kon speel. Foto: William Brown

Nou is die uitdaging vir die afrigters om te werk met die fokus op ’n moontlike terugkeer tot wedstryde in 2021 en spelers weer fiks te kry, selfs al sal hulle nie vanjaar in wedstryde kan speel nie.

Vir liefhebbers van skolesport was 2020 ’n moeilike en droë jaar, met meeste skole wat net twee of drie rugbywedstryde kon inwerk voordat die Covid-19-pandemie ’n stokkie voor wedstryde gesteek het.

Nou kan spelers weer daaraan begin dink om die rugbystewels uit die kas te haal en afrigters solank die duiksakke afvee, wat die afgelope maande in die stoorkamers lê en stof vergaar het.

Vir Tjaart van der Walt, afrigter van die Hoërskool Monument in Krugersdorp se eersterugbyspan, was die afwesigheid van skolesport ’n “groot frustrasie”, veral met die oog op die eeufeesviering van die skool in 2021.

Toernooie soos die Paastoernooie, Noord/Suid-toernooi en ons 100ste feesviering maak staat op die mense wat kom kyk.
Tjaart van der Walt

“Ons sal seker eers ná die skoolvakansie duidelikheid oor die riglyne kry, maar ek glo ons sal deurlopend die duiksakke moet ontsmet,” sê Van der Walt.

Maar hy wou weet: “Hoe beoefen jy rugby met ’n masker op?”

Van der Walt sê hy is optimisties daaroor dat skolerugbywedstryde in 2021 sal kan hervat, maar weet nie of sy span voor ’n skare sal mag uitdraf nie.

“Al volgende jaar se kompetisies se datums is reeds bekend gemaak, maar die groot kommer is die toeskouers.

“Jy kan sonder toeskouers speel, maar dit gaan nie so lekker wees nie. Toernooie soos die Paastoernooie, Noord/Suid-toernooi en ons 100ste feesviering maak staat op die mense wat kom kyk.”

Vir Jaco Koch, afrigter van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria, was 2020 ’n nagmerrie seisoen met die pandemie wat die skool se eeufees bederf het.

Hy is toe minstens deur die Blou Bulle se o.21’s betrek op ’n tydelike grondslag as voorspeler-afrigter tydens Saru se o.21-toernooi.

“Vir Affies se bestuur en afrigters het vanjaar grootliks oor beplanning gegaan. Al die skole is in dieselfde posisie en ons uitdaging is om so vinnig as moontlik ’n voorsprong te kry bo die res,” sê Koch.

“Ons het hard agter die skerms gewerk en vir die seuns tuisprogramme gegee, maar nou wag ons nog net vir goedkeuring om tot die veld terug te keer. My hart sê ons sal volgende jaar weer kan speel en ons fokus is ook ingestel asof ons sal.”

Koch sê dit was maklik om die gr. 10- en gr. 11-seuns te motiveer, maar dat die matrieks swaar gesluk het daaraan dat hulle nie vir oulaas hul skool kon verteenwoordig nie.

In die Paarl is die seuns ook besig om geleidelik weer in die gimnasium roes af te skud.

Pieter Rossouw, oud-Springbok en direkteur van rugby by Paarl Gimnasium, erken dat dit ’n fout sal wees om die intensiteit te veel te lig nadat die seuns vir lank nie kon oefen nie.

Die ouens was aanvanklik baie gemotiveerd gewees, maar soos wat die hoop vervaag het om vanjaar weer te speel, het die motivering ook houe gevat.
Pieter Rossouw

“Die ouens was vir baie lank onaktief, so ons vat dinge nou stadig,” sê Rossouw.

“Ons moes deurlopend baie moeite doen, want baie van die ouens het nie gewigte by die huis nie, so ons het baie op liggaamsmassa klem gelê.

“Die ouens was aanvanklik baie gemotiveerd gewees, maar soos wat die hoop vervaag het om vanjaar weer te speel, het die motivering ook houe gevat.

“As jy kyk na hoe die professionele spanne weer kontaksport speel, glo ek vir seker dat skolespanne volgende jaar weer sal kan deelneem.

“Hulle val immers in die groep wat die minste gevaar loop (wat ernstige simptome van die koronavirus betref),” sê hy.

Saru het amateur- en skolespanne wat van plan is om hul spelers weer te laat oefen aangeraai dat hulle ’n geïntegreerde plan moet volg.

Volgens dié plan word vier weke se fiksheid- en kragoefeninge vereis, voordat kontakrugby daarna geleidelik oor dieselfde tydperk tydens oefening toegepas kan word.

Meer oor:  Tjaart Van Der Walt  |  Covid-19  |  Skolerugby  |  Paarl Gimnasium  |  Monnas  |  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.