Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
SA Skolespan ook Engelse se baas

Vrot dissipline het so byna die Suid-Afrikaanse Skolerugbyspan Saterdag in Wellington duur te staan gekom teen Engeland.

Die Skolespan het die Engelse met 33-27 geklop in die laaste wedstryd van die internasionale reeks vir o.18-spanne en ook die reeks onoorwonne afgesluit. Maar daar was ’n paar oomblikke wat dinge wraggies broekskeur gegaan het.

Gideon van Wyk / Foto: Gallo Images

Suid-Afrika het vroeg sy stempel op die wedstryd afgedruk toe die voorrymanne André-Hugo Venter en Jan-Hendrik Wessels kort ná mekaar oorgeduik het. In daardie tyd het die tuisspan balbesit en gebiedsvoordeel oorheers en was daar genoeg belofte van ’n wegholoorwinning.

Helaas toe nie. Die eerste krake in die tuisspan se mondering was toe hy by meer as een geleentheid nie sy balbesit by losgemale beskerm het nie en onnodige strafskoppe afgestaan het.

Toe gaan staan en loop die vleuel Tharquinn Manuel homself boonop ’n geelkaart vir ’n gevaarlike duikslag op die lyf.

Wel, Manuel was skaars af, toe volg die slot Simon Miller in sy voetspore vir ’n oortreding by ’n losgemaal. Die skeidsregter het ook ’n strafdrie toegeken aan die Engelse, wat seker nie hul geluk kon glo nie.

Dit het beteken dat die Engelse teen rustyd met 19-13 voor was en boonop stert in die lug.

Halfpad deur die tweede helfte het die Skolespan vlamgevat toe die senter Henco van Wyk oorduik om die tuisspan binne trefafstand te plaas. Hoewel Suid-Afrika die wa uiteindelik deur die drif kon trek, het daardie tyd met net 13 spelers op die veld, so byna die tuisspan duur te staan gekom.

Tog het Suid-Afrika goed verdedig wanneer dit saakgemaak het, en gewys dat die toekoms van rugby in Suid-Afrika beslis nie bleek is nie.

Die grootste aardigheid van die tweede helfte is die skeidsregter, Adam Jones van Wallis, wat die veld met ’n besering moes verlaat. En nee, nie ’n dyspierbesering soos wat fluitjieblasers soms opdoen nie, nee, hy het in die hitte van die spel ’n arm van Miller in die gesig gekry.

* Die SA Skole A-span het in ’n voorwedstryd met 12-27 teen Argentinië se o.18-span verloor.

* Puntemakers:

SA Skole 33 (13): Drieë: André-Hugo Venter, Jan-Hendrik Wessels, Henco van Wyk, Gideon van Wyk, Keane Galant. Doelskop: Jurich Claasens. Strafdoele: Claasens (2).

Engeland o.18 27 (19): Drieë: Emeka Ilione, Strafdrie, Orlando Bailey, Matthew Ward. Doelskop: Bailey. Strafdoel: Bailey.

Meer oor:  Sa Skolespan  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.