Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Spogtoernooi sal skolerugby verbeter

Die skolerugbytoernooi der skolerugbytoernooie sal van 2 tot 7 April by Paarl Boishaai gespeel word.

Twee spelers van Paarl Boishaai omhels mekaar vanjaar ná die span se interskolewedstryd teen Paarl-Gimnasium. Albei dié spanne sal in 2018 aan die Wêreld-skolefees deelneem. Foto: Gallo Images

Tien Suid-Afrikaanse skole sal saam met verskeie skole vanuit die buiteland aan die Wêreld-skolerugbyfees deelneem. Dié toernooi is die breinkind van Boishaai se eerstespanafrigter, Sean Erasmus, en die voormalige Springbok-afrigter Heyneke Meyer.

Benewens Boishaai, is die ander Suid-Afrikaanse skole wat gaan deelneem die Hoërskool Monument, die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), Paarl Gimnasium, Paul Roos Gimnasium, Grey-kollege, Boland Landbou, Hoërskool Outeniqua, Oakdale Landbou en Glenwood High School.

Monnas het vanjaar die Virsekerbeker-toernooi vir makroskole gewen. Die Wit Bulle se breier, Tjaart van der Walt, sê dit is ’n voorreg om na dié toernooi genooi te word.

“Ek is baie bly dat ons aan die toernooi gaan deelneem. Dit wys dat ons as een van die topskole in die land gereken word. Dié toernooi is enig in sy soort, met topskole uit Nieu-Seeland en Engeland wat ook gaan deelneem,” sê Van der Walt.

Vier Nieu-Seelandse skole, Hamilton Boys’ High, Christchurch Boys’ High, Otago Boys’ High en Napier Boys’ High, gaan in die Paarl in aksie wees.

Hartpury College en Millfield School sal Engeland verteenwoordig.

Tjaart van der Walt, die afrigter van die Hoërskool Monument se eerste rugbyspan. Foto: Marius Nortjé

“Jy wil jouself teen die beste meet en nou het ons die kans om dit te doen. Ons weet nog nie teen wie ons gaan speel nie, maar as jy net na daardie skole van Nieu-Seeland se reputasie kyk, dan weet jy dit gaan ’n groot uitdaging wees. Hulle is baie beroepsgerig,” sê Van der Walt.

Die enigste wedstryd wat Boishaai in die laaste drie jaar verloor het, was teen Christchurch Boys’ High (38-36) vroeër vanjaar. Dít getuig van dié skool se vermoë.

Christchurch Boys’ het reeds 46 All Blacks opgelewer, waaronder Dan Carter, Andrew Mehrtens, Ben en Owen Franks, Brodie Retallick, Matt Todd, Aaron Mauger en Adam Thompson. Nieu-Seeland se breier, Steve Hansen, én sy voorganger, Graham Henry, is boonop oudskoliere van dié skool.

Napier Boys’ High het All Blacks soos Zac Guildford en Greg Somerville opgelewer, terwyl die huidige All Black-skrumskakel Tawera Kerr-Barlow ’n oudleerling van Hamilton Boys’ High is.

Van der Walt glo dié toernooi sal die gehalte van skolerugby in Suid-Afrika verbeter.

“Ons wil altyd teen die beste skole in die land meeding en nou kry ons die geleentheid om teen van die beste skole in die wêreld te speel. Dit sal die standaard van die spel in die land verhoog. As ons op dieselfde vlak of selfs beter as hulle is, is dit wonderlik. Maar as ons agter is, sal ons gou sien waar ons moet verbeter om daar uit te kom,” sê hy.

Daar sal ook ’n gekombineerde span van Afrika en die Stille Oseaan-eilande deelneem, ’n streekspan van Mendoza in Argentinië, ’n span van Frankryk en ’n streekspan van óf Italië of Amerika. – Bykomende bron: School of Rugby

Meer oor:  Skolerugby  |  Boishaai  |  Tjaart Van Der Walt  |  Monument
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.