Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
‘Talent kan verlore gaan in 2020’

Skolerugby in 2020 het waarskynlik die uitklophou gekry met die Blou Bulle en die Goue Leeus se hoërskole-verenigings wat albei die seisoen gekanselleer het en dít kan verreikende gevolge vir belowende spelers inhou met die oog op die toekoms.

Die Hoërskool Menlopark sal nou eers tot 2021 moet wag voordat hy sy Virsekerbeker-titel sal kan probeer verdedig. Foto: Frans Lombard

So meen talle skole se breiers en agente, wat kontrakte vir skoolseuns probeer kry by unies of klubs, wat nie meer vanjaar kans sal kry om Suid-Afrika se talentpoel in aksie te sien nie.

Len Olivier, die eienaar van Rugby Travel, glo die paadjie kan nou moeiliker wees, veral vir spelers wat nou in hul matriekjaar is en dalk nie verlede jaar al hul deurbraak gemaak het nie.

“Dit (die afstel van die rugbyseisoen) laat ’n helse leemte,” sê Olivier.

“Daar is ouens wat sonder twyfel nou deur die krake gaan val. Ons sien elke jaar dat seuns wat in graad 11 in skole soos Affies, Menlopark of Garsfontein se tweede of derde span gespeel en niemand van hulle geweet het nie, in matriek vir die eerste span uitstekende rugby opdis. Nou gaan daardie seuns dalk nie raakgesien word of kontrakte kry nie.

Rugby Travel het einde verlede jaar ’n groep seuns in Frankryk laat toer, waar hulle teen die junior spanne van onder andere Clermont, Castres en Bordeaux gespeel het.

Olivier sê hulle kan dalk aan die einde van die jaar weer só ’n toer beoog.

“Ek sal graag steeds aan die einde van die jaar kinders oorsee wil vat op ’n rugbytoer net sodat hulle iets uit die jaar kan kry en bietjie rugby speel,” sê hy. “Daar is nie vanjaar ’n Wildeklawer-toernooi of iets anders nie, so ek vermoed daar mag dalk ’n paar ouers wees wat die oorsee roete wil kies vir hul kinders.”

Hy sê die drastiese stap om alle skolesport in Mei al te skrap, is dalk oorhaastig geneem.

“Gesondheid is die eerste prioriteit en ’n mens wil niemand se lewens in gevaar stel nie. Ek weet egter nie of die getalle (Covid-19-infeksies) al regverdig dat sulke drastiese stappe nou al geneem moes word nie.

“Kinders gaan in elk geval binnekort terug skool toe, so hulle gaan beslis weer kontak met mekaar hê.”

Dit volg nadat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, verlede week gesê het die plan is dat matrieks en gr. 7-leerlinge op 1 Junie teruggaan skool toe.

“Miskien kon wedstryde steeds sonder toeskouers plaasvind en dan deur iemand soos DigiTV gebeeldsend word vir almal om te kyk. Terselfdertyd is ek ook nie ’n dokter nie en die welstand van die kinders moet in ag geneem word.”

Die Hoërskole Menlopark (Beker), Ben Vorster van Tzaneen (Plaat) en Hugenote van Springs (Skild) sal intussen almal eers volgende jaar die kans gegun word om hul Virsekerbeker-titels te probeer verdedig.

Dean van der Watt, die eerste span se afrigter by Menlopark, sê sy hart gaan uit na sy leerlinge, wat met groot afwagting uitgesien het daarna om die skool se eerste titel in dié reeks te probeer verdedig.

“Dis uiters hartseer. Die kinders het hard gewerk en goed voorberei en nou is alles gekanselleer,” sê hy.

Tinus Diedericks, voorsitter van die Goue Leeus se Hoërskole Rugbyvereniging, het die afgelope naweek gesê daar is ’n skrale kans dat alles nog nie verlore vir skole in dié streek is nie.

“Sou die moontlikheid later die jaar kom en individuele skole wil speel, sal hulle aansoek moet doen by die uitvoerende raad en die Goue Leeus Rugbyunie, wat op hul beurt dit na Saru (Suid-Afrikaanse Rugbyunie) sal verwys.

“Daar sal streng maatreëls toegepas word indien enigiets toegelaat word,” het Diedericks luidens ’n verklaring gesê.

“Dit is beslis nie die 2020-seisoen waarna ons uitgesien het nie. Die grootste verloorders is miskien die spelers wat in hul finale jaar van hoërskole-skolerugby sou wees.”

Diedericks sê ook dat kinders nie moet dink alles is nou verlore nie.

“Onthou seuns, dit is nie die einde van jou rugbyloopbaan nie, dit is net ’n struikelblok,” het hy bygevoeg.

Meer oor:  Skolerugby  |  Koronavirus  |  Virsekerbeker  |  Blou Bulle  |  Covid-19  |  Goue Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.