Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Tieragtige Luiperds troef Griekwas

Die Luiperds het Donderdag soos tiere verdedig om Griekwas te stuit op die vierde dag van die o.18-Cravenweek, wat by ’n sopnat Brugstraat in die Paarl beslis word.

Isrome Phatudi van die Luiperds word platgetrek in hul stryd teen die Griekwas. Foto: Gallo Images

Die rugbyspan van Noordwes het eindelik met 17-6 die pyp gerook nadat hy teen lemoentyd met 10-6 voor was.

Die Luiperds verdien ’n klop op die skouer vir die wyse waarop hul rotsvaste verdediging Griekwas deurgaans verhoed het om deur te breek, ten spyte daarvan dat Griekwas die meeste balbesit geniet het.

Andries Rossouw, Luiperds-slot, het die enigste drie in die eerste helfte gedruk, terwyl Frank-Lee Jackson ’n doelskop en ’n strafdoel bygedra het met sy stewel. Max Williamson het Griekwas se doppie geklink toe hy laat in die tweede helfte gaan druk het.

Griekwas se enigste punte van die wedstryd het gekom danksy strafdoele deur Salmon Oberholzer en Handré Bruwer, maar die span van die Noord-Kaap sal wonder hoe hulle dié een verloor het, gegewe al die speelwerk wat hulle in die tweede helfte gedoen het.

Die Suidwestelike Distrikte en die Goue Leeus se uitnodigingspan het nie toegelaat dat die eendeweer hulle onderkry nie en met goeie hardlooprugby vorendag gekom. SWD het dié stryd met 38-24 gewen om die Goue Leeus-uitnodigingspan ’n tweede agtereenvolgende loesing toe te dien.

Die wenspan was met rustyd reeds 28-12 voor en het ses keer agter die doellyn gaan draai danksy twee drieë deur Vernon Paulo, met Janco Klinck, Clyde Lewis, Johannes Gous en Magnus Muller wat ook gaan druk het.

Die verloorspan het nooit gaan lê nie en self vier keer die doellyn oorgesteek.

Die Westelike Provinsie se uitnodigingspan en die Valke was in een van die taaiste wedstryde van die toernooi gewikkel, met die tuisspan wat met 26-8 gewen het.

Dié telling is egter nie ’n akkurate weerspieëling van hoe sake verloop het nie. Albei spanne het alles in die stryd gewerp en die Valke het talle geleenthede om punte aan te teken, verbrou.

Die Streeptruie het wel hul diepte bevestig en Allister Williams het twee keer gaan druk, met Dean Nieuwoudt wat die ander drie gedruk het.

Cravenweek:

Puntemakers:

Luiperds 17 (10): Drieë: Andries Rossouw, Max Williamson. Doelskoppe: Frank-Lee Jackson (2). Strafdoel: Jackson.

Griekwas 6 (6): Strafdoele: Salmon Oberholzer, Handre Bruwer.

Suidwestelike Distrikte 38 (28): Drieë: Janco Klinck, Clyde Lewis, Vernon Paulo (2), Johannes Gous, Magnus Muller. Doelskoppe: Lewis (4).

Goue Leeus-uitnodigingspan 24 (12): Drieë: Neil Hoffman, Brendon Pawson, James Macindoe, Ngia Selengebe. Doelskop: Reece Botha (2).

Westelike Provinsie-uitnodigingspan 26 (8): Drie: Dean Nieuwoudt, Allister Williams (2). Doelskoppe: Nivan Petersen. Strafdoele: Petersen (3).

Valke 8 (3): Drie: Dian Coetsee. Strafdoel: Aurelio Philander.

Akademieweek:

Limpopo Blou Bulle 25, Westelike Provinsie-uitnodigingspan 14;

Griekwas-Platteland 26, Pumas-Platteland 26;

Griffons 15, Goue Leeus-uitnodigingspan 6;

Griffons-Platteland 17, Grens-Platteland 8;

Goue Leeus 21, Oostelike Provinsie 21.

Meer oor:  Cravenweek  |  Skolerugby  |  Luiperds  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.