Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Wildeklawer-2020: Verwag vuurwerk

As enigiemand gewonder het of die Wildeklawer-skolerugbytoernooi besig is om stoom te verloor, het die aankondiging van die 2020-bepalings daardie antwoord met ’n luide nee beantwoord.

Nie net sal die land se voorste skole opruk na die Hoërskool Diamantveld in Kimberley vir die 12de weergawe van die toernooi nie, maar die bepalings sal sekerlik enige skolerugbyondersteuner sy lippe laat aflek.

FC du Plessis, losskakel van Grey-kollege in 2019, duik oor die doellyn teen Paarl Gimnasium tydens vanjaar se Wildeklawer-rugbytoernooi. Foto: Frans Lombard

Die twaalfde weergawe van die toernooi skop op 24 April af by die Hoërskool Diamantveld, met een van die grootste wedstryde in skolerugby tussen die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) en die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai).

Dié twee swaargewigte het mekaar sedert 1947 al 23 keer gepak, met die Pretorianers twaalf keer baas en Boishaai elf keer.

Die Paarliete het egter die laaste vier gewen.

Dié liplekker-kragmeting is maar net die begin. Grey-kollege van Bloemfontein, wat in 2018 en 2019 onoorwonne was, pak op 25 April die Hoërskool Garsfontein vir net die vierde keer tot nog toe.

Die Virsekerbeker-kampioen, die Hoërskool Menlopark, sal die toernooi afskop teen die gedugte span van Paarl Gimnasium, wat vanjaar die naasbeste span in die land was.

Verder wag kragmetings tussen Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch en Helpmekaar Kollege van Johannesburg, en tussen die Hoërskool Monument van Krugersdorp en die Hoërskool Outeniqua van George.

Boishaai sal boonop op Maandag, 27 April vir die eerste keer in hul geskiedenis teen die Garsies te staan kom.

Daar sal talle wedstryde op die laaste dag wees.

’n Grote is tussen Gimmies en Grey. Gimmies sal met wraak in hul harte aantree nadat die Bloemfonteinters hulle vanjaar met 47-33 ore aangesit het.

Outeniqua se Kwaggas sal hoop op ’n eerste oorwinning oor Affies se Wit Bulle en Parkies sal hulle wil wreek op Boland Landbou vir die ordentlike drag slae wat hulle in 2018 by die Blou Bulle se Prestige-rugbydag op die lyf geloop het.

Die Glenwood High School van Durban en Paul Roos Gimnasium sal mekaar vir die eerste keer sedert 2013 pak. Die Stellenbossers was toe 15-10 baas by Kearsney College se Paastoernooi.

In 2017 het die Hoërskool Stellenberg net-net die aftog geblaas teen die Hoërskool Waterkloof se Blou Tornado.

Die Klofies was toe met 36-33 baas en die span van Belville sal ’n appeltjie met hulle te skil hê.

Die bepalings is:

Vrydag, 24 April 2020

Affies t. Hoër Jongenskool Paarl.

Saterdag, 25 April 2020

Grey-kollege t. Garsfontein; Glenwood High School t. Welkom Gimnasium; Monument t. Outeniqua; Paul Roos Gimnasium t. Helpmekaar Kollege; Oakdale Landbou t. Waterkloof; Diamantveld t. Boland Landbou; Paarl Gimnasium t. Menlopark; Framesby t. HTS Drostdy; Stellenberg t. Noord-Kaap.

Maandag, 27 April 2020

Grey-kollege t. Paarl Gimnasium; Hoër Jongenskool Paarl t. Garsfontein; Paul Roos Gimnasium t. Glenwood High School; Affies t. Outeniqua; Boland Landbou t. Menlopark; Monument t. HTS Drostdy; Oakdale Landbou t. Diamantveld; Waterkloof t. Stellenberg; Welkom Gimnasium t. Helpmekaar Kollege; Framesby t. Noord-Kaap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.