Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Jansies stoomroller voort

Die Jansie-bom kom. Dít was die waarskuwing wat die Hoërskool Dr. EG Jansen Saterdag uitgestuur het toe hy Helpmekaar Kollege met 47-24 oorrompel het in Johannesburg.

Die Hoërskool Noordheuwel se losskakel Divan Spangenberg staal hom vir kontak met die Hoërskool Marais Viljoen se Quintin Meyer en JC Boshoff in die spanne se Virsekerbeker-stryd. Foto: Marius Nortjé

Die manne van Boksburg het met hul oorwinning gewys dat hulle nie vanjaar durf onderskat word in die Virsekerbeker-reeks se Beker-afdeling nie.

Dit het die binnesenter Eben Hyman net langer as ’n minuut ná die afskop van die wedstryd geneem om die doellyn oor te steek. Die skrumskakel Louis de Bruyn en loskopstut Johnathan Redelinghuys het ook voor rustyd gedruk om die span met 21-10 die voortou te gee.

Die flank Werner Groenewald, heelagter Jason Edwards, losskakel Kyle Benade en agtsteman Brandon Smit het ná die omdraaislag die sout verder in die wonde gevryf, voordat ’n laat aanslag deur die Helpies ietwat verlore aansien herwin het vir die verloorspan.

Edwards was ’n gifangel op die aanval met sy vermoë om spanne oop te kerf en sy reuse-skopstewel was eweneens ’n groot bate vir die Jansies.

In die enigste ander stryd in die Beker-afdeling het die Hoërskool Noordheuwel die Hoërskool Marais Viljoen met ’n knal aarde toe gebring toe hy hom met 20-10 verslaan het.

Dít nadat die span van Alberton, die nuweling in dié afdeling, verlede week vir ’n groot opskudding gesorg het toe hy die Helpies se doppie geklink het.

Die Nories het skoonskip gemaak met al nege sy spanne wat die botoon gevoer het.

Marais Viljoen kon in vier van hierdie wedstryde nie ’n enkele punt aanteken nie.

• Twee drieë, twee doelskoppe en twee strafdoele deur die Hoërskool Nelspruit se losskakel Christiaan Gates het sy span tot ’n weghol-oorwinning met 42-3 oor Hoërskool Transvalia help voer.

Die Hoërskool Nelspruit se Werner Geldenhuys beur vorentoe teen die Hoërskool Transvalia terwyl sy spanmaat Henru van der Merwe hom bystaan. Foto: Johan Orton

Dié twee spanne was in die Plaat-afdeling slaags.

Ter versagting moes Transvalia sonder ’n klompie van sy eerstekeuse-spelers klaarkom. Sy kaptein en agtsteman, Zander Zaayman, is tydens die Valke se proewe beseer, terwyl die vaskopstut Reno Hirst sak en pak na Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch is.

Die verdedigende kampioen in dié afdeling, die Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen, moes swoeg vir sy oorwinning in Pretoria oor die Hoërskool Montana.

Die besoekers het met 33-26 die pyp gerook.

Montana het gesukkel om antwoorde op die verdediging te vind vir die Vossies se linkervleuel Ndzamala Twala.

Dié haastige speler het twee keer afgerond.

Dit het ’n drie ná die toeter deur die Hoërskool Zwartkop se losskakel Jarno Snyders geverg om sy span met 14-7 koning te laat kraai in ’n taai kragmeting met Hoërskool Middelburg.

• Hoërskool Hugenote van Springs het sy visier ingestel op ’n tweede agtereenvolgende titel in die Skild-afdeling.

Hy het vir die Hoërskool Oos-Moot van Waverley met 24-7 verslaan terwyl Hoërskool Eldoraigne die Hoërskool Florida met 36-17 ore aangesit het.

Die Hoër Volkskool Heidelberg moes hard werk om vir Ligbron Akademie met 19-12 te klop.

Meer oor:  Skolerugby  |  Nelspruit  |  Virsekerbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.