Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Monnas in wraakstryd teen Klofies

Die eerste skote van die Virsekerbeker-reeks klap Saterdag met dié gewilde Noordvaal-reeks wat vir die 100ste keer sal plaasvind.

Kan die Hoërskool Monument die bordjies verhang? Hier is Franco Groenewald op die aanval vir die Hoërskool Waterkloof tydens hul laaste kragmeting in 2019 toe die Blou Tornado met 28-21 gewen het. Foto: Marius Nortjé

Dit volg nadat die kompetisie, wat voorheen die Beeldtrofee, Administrateursbeker en die Direkteurstrofee geheet het, in 2020 sy 100ste bestaansjaar sou vier, maar weens die Covid-19-pandemie gekanselleer is sonder dat enige wedstryde gespeel is.

Die Hoërskool Waterkloof sal veral met groot afwagting uitsien na sy openingswedstryd.

Die Blou Tornado reis na Krugersdorp, waar ’n vuurdoop in die gedaante van die Hoërskool Monument se Wit Bulle op hom wag.

Dit sal die Klofies se eerste kragmeting sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie wees nadat gevalle van die koronavirus by die skool daartoe gelei het dat hulle Monnas se Eeufees-toernooi, sowel as die Noord-Suid-toernooi, moes misloop.

Monnas sal probeer om die eerste keer sedert 2017 met die Klofies af te reken.

Waterkloof was in 2019 (28-21) en in 2018 (24-22) baas, terwyl Monnas tussen 2009 en 2017 elke keer die pyp gerook het.

In Mpumalanga sal die Hoër Tegniese Skool Middelburg sy veldtog op die regte noot wil begin wanneer hy die Hoërskool Garsfontein die stryd aansê.

Die Garsies se Bere het in 2019 (44-27) en in 2018 (46-19) die Rooi Bulle geroer en die Middelburgers was in 2014 laas aan die wenkant in dié tweestryd toe hulle naelskraap met 34-33 gewen het in die halfeindronde van die destydse Tuks-reeks.

Die Hoërskool Noordheuwel het ’n moeilike taak wat op hom wag wanneer hy gasheer speel vir die Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg.

In 2019 het dié twee spanne vir ’n absolute drieëfees gesorg met nie minder nie as 100 punte wat aangeteken is toe die Jansies op daardie dag met 62-38 geseëvier het.

Helpmekaar Kollege sal in Johannesburg meen hy het ’n sterk kans om met die Hoërskool Marais Viljoen van Alberton, die nuwelinge in die Beker-afdeling, af te reken.

Dit sal ook die eerste keer in sewe jaar wees wat dié twee skole swaarde kruis op die rugbyveld.

• Die Hoërskool Bekker in Magaliesburg speel gasheer vir die NWU-reeks se Sportdag, waar 12 skole in aksie sal wees.

Die eerste stryd skop reeds om 09:00 af, wanneer die eerste spanne van die Hoërskool Volksrust en die Hoërskool Schoonspruit van Klerksdorp slaags sal wees.

Daarna sal die Hoërskool Riebeeckrand van Randfontein en die Hoërskool Delmas mekaar pak, met die Hoërskool Wolmaransstad wat Ferrum High School van Newcastle sal uitdaag.

Bekker kom op sy tuisveld teen die Hoërskool Oosterland van Secunda te staan, terwyl die Hoërskool Fochville en die Hoërskool Pionier van Vryheid vir hope opwinding sal sorg.

Die dag se verrigtinge sal afgesluit word met die Hoërskool Vryburg en die Hoërskool Piet Retief se stryd.

Geen toeskouers word by enige wedstryde toegelaat nie.

• Bepalings in die Virsekerbeker-reeks:

Monument t. Waterkloof; HTS Middelburg t. Garsfontein; Noordheuwel t. EG Jansen; Helpmekaar Kollege t. Marais Viljoen.

Meer oor:  Skolerugby  |  Virsekerbeker  |  Monnas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.