Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Vossies klop Rustenburg in eendeweer

Die Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen moes op ’n sopnat veld alles in die stryd werp om ’n begeesterde span van die Hoërskool Rustenburg te klop.

Die Vossies het die klipharde stryd met 12-8 gewen en sodoende ’n afspraak teen die Hoërskool Eldoraigne gemaak in die eindstryd van die Virsekerbeker-reeks se Plaat-afdeling.

Die Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen se losskakel, Lehann Marais, op die aanval teen die Hoërskool Rustenburg tydens die twee skole se Virsekerbeker-halfeind. Foto: Pieter Vorster

Die tuisspan se heelagter, Meyer Vorster, was die groot held van die dag nadat hy verantwoordelik was vir al sy span se punte.

Vorster het vier strafskoppe deur die pale gejaag om Rustenburg se doppie te klink.

Die Vossies was rustyd met 9-3 voor, met die Rusties se flank, Louis Vivier, wat in die tweede helfte die enigste drie van die wedstryd gedruk het.

Die Vossies, wat verlede jaar nog in die Skild-afdeling se eindstryd gespeel het toe hulle met 20-29 teen Hoërskool Oos-Moot vasgeval het, sal hoop dat hulle dié slag kampioen-glorie beskore is.

* In die Skild-afdeling sal die Hoërskool Middelburg met die Hoërskool Hugenote van Springs swaarde kruis in die eindstryd.

Middelburg het Heidelberg Volkskool met ’n sterk vertoning met 28-17 geklop in hul halfeindstryd, terwyl Hugenote vir ’n groot verrassing gesorg het toe hy kon vasbyt om vir die Hoërskool Lichtenburg met 19-17 te troef.

* In Afdeling 2 sal ’n nuwe kampioen die naweek gekroon word wanneer die Hoërskool Pietersburg en Ligbron Akademie van Ermelo teen mekaar te staan kom.

Die Pieties het die Hoërskool Klerksdorp in die halfeind met 35-29 getroef, met sy losskakel, Zander de Ridder, wat hier deurslaggewend was.

Hy het 30 van sy span se punte aangeteken en boonop ’n driekuns aan drieë behaal.

Ligbron Akademie het op sy beurt weer amok gemaak teen die Hoërskool Wesvalia en hulle met 65-17 uit die pad gevee.

* Die eerste kampioene van die Virsekerbeker-reeks is die afgelope naweek gekroon.

In Afdeling 3 het die Leeuwenhof Akademie van Germiston hopeloos te veel skietgoed gehad vir Curro Heuwelkruin in die eindstryd.

Leeuwenhof het gemaklik met 37-16 gewen.

Springs Boys’ High School het ’n nuwe toevoeging tot sy trofeekas gekry nadat hy die Hoërskool Warmbad met 27-22 verslaan het in die eindstryd van Afdeling 4.

Die Hoërskool Heilbron kan self breëbors wees nadat hy vir Littleton Manor High School van Centurion met 26-22 ore aangesit het in die eindstryd van Afdeling 5.

Meer oor:  Skolerugby  |  Virsekerbeker  |  Rustenburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.