Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Vossies wen Plaat in stryd van senters

Die Hoërskool Ben Vorster het net-net genoeg skietgoed gehad om Saterdag ’n 14-man span van Hoërskool Eldoraigne te troef in die eindstryd van die Virsekerbeker se Plaat-kompetisie.

Die Hoërskool Ben Vorster se binnesenter, Christiaan Smit, op pad doellyn toe in die Plaat-eindstryd teen die Hoërskool Eldoraigne. Foto: Frans Lombard

Die Vossies het die botoon naelskraaps met 37-36 gevoer teen die Eldo’s se begeesterde Groen Drake om die eerste keer sedert 2010 die silwerware te wen.

Dit was egter die stryd tussen die twee skole se binnesenters, Christiaan Smit van Ben Vorster, en Waldo Noeth van Eldoriagne, wat hier die tonge aan die klap gehad het.

Nie minder nie as sewe van die wedstryd se nege drieë is deur dié twee agterlynmanne gedruk.

Die Eldo’s het eerste bloed geruik met ’n strafdoel deur Noeth, voordat Smit ’n gaping in die verdediging gesien en die Vossies se eerste drie afgerond het. Noeth het dadelik teruggeslaan vir die Groen Drake en het in die hoekie gaan druk om Eldoraigne ’n 8-7 voorsprong te gee.

Drie strafdoele deur die Vossies se heelagter, Meyer Vorster, het sy span toegelaat om teen rustyd te kon water skep met ’n 16-8 voorsprong.

Die Hoërskool Ben Vorster se binnesenter, Christiaan Smit, vier een van sy drie drieë; in die Plaat-eindstryd teen die Hoërskool Eldoraigne. Foto: Frans Lombard

Die Eldo’s het die tweede helfte op die volmaakte noot begin toe Noeth sy tweede gedruk het, voordat Smit met sy tweede weer die Vossies se voorsprong vergroot het.

Die span van Tzaneen se haker, Tumisho Montyane, het sy span ruimte gegee op die telbord toe hy gaan druk het om die telling 30-15 te maak.

Die drieëfees is voortgesit toe die Eldo’s se regtervleuel, Adriaan Botha, agter die pale gaan draai het.

Die Eldo’s se dissipline was egter deurlopend ’n kwelpunt en ná sy haker Luhan Ooshuizen met ’n rooi kaart koelkas toe gestuur is nadat hy ’n speler geknie het, was die skrif aan die muur.

Smit het sy driekuns vir die Vossies voltooi vir ’n 37-22 voorsprong.

Nietemin het Noeth alles in die stryd gewerp om sy span oor die laaste hekkie te probeer kry en nóg twee drieë gedruk wat hy ook verdoel het. Dit was egter te min met die Vossies wat as die kampioene gekroon is.

Die Vossies se heelagter, Vorster, verdien ook ’n klop op die skouer nadat hy sy skopskoen reg vasgemaak het en al vier sy span se drieë verdoel het met sy drie strafskoppe –’n persoonlike bydrae van 17 punte.

Meer oor:  Skolerugby  |  Virsekerbeker  |  Ben Vorster  |  Eldoraigne  |  Christiaan Smit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.