Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Weerlig, reën het laaste sê in Paas-rugby

Weerlig en reën het gister die Paas-rugbytoernooie vir skole erg in die wiele gery en spel moes in Johannesburg en in Durban gestaak word toe die onweer die toestande onveilig gemaak het.

Headley Hadlow, binnesenter van die Hoërskool Stellenberg, probeer om Janrico Vermeulen van die Hoërskool Nelspruit af te stamp by St. John’s College se Paastoernooi. Foto: Frans Lombard

Desondenkas is puik spel deur die oggend gesien, en by St John’s het die Hoërskool Stellenberg van Durbanville in ’n armstoeiery die Hoërskool Nelspruit met 13-5 gesink.

Stellenberg se verdediging was uiteindelik die groot verskil tussen die spanne.

Die span van Bellville se linkervleuel, Jean-Jacques van Schalkwyk, het teen die verloop van spel onderskep en agter die doellyn gaan kuier met Nivan Petersen wat verdoel het vir die enigste punte in die eerste helfte.

’n Strafdoel deur Stellenberg se buitesenter, Meyr Retief, het sy span met 10-0 laat voorloop voordat die Rhinos se haker, Chyle van Zyl, op ’n losbal agter die doellyn geval het vir Nelspruit se enigste punte van die wedstryd. Petersen het egter sake buite twyfel geplaas met ’n strafdoel kort voordat die eindfluitjie geblaas het.

Helpmekaar Kollege het St. Albans met 33-19 omgedop, terwyl die Australiese uitnodigingspan van New South Wales ook ’n tweede agtereenvolgende sege behaal het deur die Hoërskool Noordheuwel met 38-19 uit te oorlê.

* Alhoewel die laaste wedstryd by Kearnsey tussen Sel­borne en Glenwood afgestel moes, het die Hoërskool Noord-Kaap vroeër die bordjies verhang teen die Hoër Tegniese Skool Middelburg met sy haker, Devin Steenkamp, wat ’n barshou gespeel het om sy span die spogregte met 27-21 teen die Rooi Bulle te gee.

Die Northerns het in dié twee spanne se laaste ontmoeting in 2017 met 21-19 vasgeval.

Steenkamp het soos ’n besetene vertoon en buiten sy akkurate ingooiwerk by die lynstane het hy met sterk lopies gereeld oor die voordeellyn gekom, twee keer gaan druk en boonop ’n aandeel in nóg ’n drie gehad.

Noord-Kaap het ’n voorsprong van 10-0 gehad vroeg in die wedstryd, voordat die Rooi Bulle teruggeslaan het met twee verdoelde drieë deur regtervleuel, Quintino October, en die losskakel, Alec Vermaak.

Noord-Kaap se plaasvervanger Bradley Human het twee keer ná rustyd die kalklyn oorgesteek, voordat Steenkamp met sy tweede drie die oorwinning vasgemaak het kort voor die einde.

Pretoria Boys’ High het dieHoërskool Transvalia met 22-17 verras.

* Die Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen het by King Edward VII School (KES) vir die tweede agtereenvolgende jaar die Hoërskool Florida getroef. Die Vossies het die meeste van hul plaasvervangers laat opdraf en steeds heeltemal te veel skietgoed gehad en met 43-13 gewen

Die Hoërskool Waterkloof is so byna die skrik op die lyf gejaag in huy oorwinning met 36-25 oor Hudson Park. Die Klofies was in ’n stadium met 0-17 agter en moes hard baklei om hulself van rooi gesigte te spaar.

Uitslae

St John’s-toernooi

Donderdag: NSW Gekombineerde Skole 22, St Alban’s 7; Windhoek- Gimnasium 37, Graeme College 24; Boishaai 66, Goue Leeus XV-tal 7; St Charles 22, Daniel Pienaar 0; Nelspruit 25, St. David’s 7; Helpmekaar, 10 Stellenberg 8; St John’s 17, Noordheuwel 7. 

Saterdag: Goue Leeus XV-tal 19, St David’s Marist 12; Graeme College 19, St. Charles College 10; NSW Gekombineerde Skole 38, Noordheuwel 19; Helpmekaar 33, St. Albans College 19; Stellenberg 13, Nelspruit 5.  


KES-toernooi

Donderdag: Westville 34, Nico Malan 0; KES 36, Hentie Cilliers 15; Marlow 33, Eldoraigne 31; Northwood 31, Queen’s 7; Ben Vorster 49, Dale 46; Wynberg 37, Hudson Park 0.
Saterdag: Ben Vorster 43, Florida 13; Northwood 66, Hentie Cilliers 0; Marais Viljoen 33, Marlow 29; Waterkloof 36, Hudson Park 25


Kearsney-toernooi

Donderdag: Kearsney 11, Pretoria Boys’ 27; Framesby 25, Welkom Gim 25; Selborne 29, Noord Kaap 10; HTS Middelburg 14, HTS Drostdy 19; Glenwood 27, EG Jansen 26; DHS 12, Transvalia 34.
Saterdag: Noord-Kaap 27, HTS Middelburg 21; Pretoria Boys High 22, Transvalia 21; Framesby 26, Kearsney College 21; Welkom-Gimnasium 32, HTS Drostdy 16; Dr EG Jansen 39, Durban High School 12.

Meer oor:  Boishaai  |  Weerlig  |  Reën  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.