Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Wêreld sak toe op Markötter vir rugbyfees

Die Markötter-sportterrein van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch is ingerig en die besoekers het reeds die Eikestad begin instroom vir die Wêreld-skolerugbyfees wat Dinsdag begin.

Izan Esterhuizen (links) van die Hoërskool Monument probeer vir Tyronne Thompson van Napier Boys High vasvat tydens verlede jaar se Wêreld-skolerugbyfees. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse spanne sal na alle waarskynlik steeds te veel skietgoed hê vir hul buitelandse teenstanders, hoewel die toevoeging van vier Nieu-Seelandse teenstanders by die 2019-toernooi sake aansienlik meer interessant maak.

Tien plaaslike spanne en tien spanne van buite die grense van die reënboognasie sal sake in die tweede weergawe van dié toernooi uitspook.

Daar sal geen tekort aan opwinding wees in die eerste wedstryd van die toernooi nie wanneer die Glenwood High School van Durban, wat in 2018 die seisoen sonder ’n nederlaag afgesluit het, een van die nuwe Kiwi-spanne, die John McGlashan College van Dunedin, sal pak.

Glenwood het vanjaar reeds met Westville Boys High (22-7) en die King Edward VII School (48-36) klaargespeel en is tans onoorwonne in 19 agtereenvolgende amptelike wedstryde. Hy sal nog ’n paar slagoffers op dié lys wil voeg.

Die KwaZulu-Natallers sal wil voortbou op die vertoning op die Wêreld-skolerugbyfees in 2018 waar hulle die Italian All Stars (53-0) en Namibië (53-7) vermorsel het, hoewel die Nieu-Seelanders na alle waarskynlikheid ’n sterker uitdaging sal bied.

Paarl Gimnasium sal Dinsdag wil voortbou op sy vertoning op verlede jaar se Wêreld-skolerugbyfees. Foto: Gallo Images

’n Nuweling op die toernooi aan Suid-Afrika se kant, die South African College Schools (Sacs), sal hul buiging maak teen die Zambezi Steelers, wat ook ’n nuwe toevoeging is.

Die Zambezi Steelers is nog relatief nat agter die ore met hul ontstaan in 2013. Die span volg ’n model soortgelyk aan die Barbarians waar spelers van oor die wêreld heen genooi word om vir hulle uit te draf.

Sacs sal egter homself terug op die wenpad wil kry nadat hy op Graeme College se rugbydag voor St. Andrew’s College van Grahamstad die knie gebuig het met 13-27.

Hartpury College sal hom staal vir die Hoërskool Monument van Krugersdorp. Monnas was in 2018 een van die groot uitblinkers op die toernooi, maar is met hul rug teen die muur nadat hulle op die Noord-Suid-toernooi teen Paarl Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl vasgeval het.

Hartpury kan egter ’n verrassing verskaf en sal heelwat selfvertroue put uit sy sege oor Christchurch Boys High die afgelope naweek tydens ’n opwarmingswedstryd. Die Britte het die seuns van Christchurch met 15-12 getroef.

Gimmies sal juis in die hoofwedstryd van die eerste dag uitdraf met die Africa Pacific Dragons wat gerus die Deep Heat solank kan nader trek, want dié besoekers gaan ’n paar lam lywe hê met ’n groot fisieke aanslag wat op hulle wag.

Die Paarliete lyk reeds na ’n gedugte eenheid en sy seges oor Durbanville (32-0), Monnas (43-29) en Menlopark (38-23) is ’n aanduiding hiervan.

Kaartjies vir die toernooi is beskikbaar by Computicket.

Dinsdag se bepalings is:

10:30: Glenwood High School t. John McGlashan College (Nieu-Seeland).

12:30: WP-uitnodigingspan t. Wêreld-skole-uitnodigingspan.

13:30: Sacs t. Zambezi Steelers.

15:00: Hoërskool Monument t. Hartpury College (Engeland).

16:30: Paarl Gimnasium t. Africa Pacific Dragons.

Woensdag se bepalings is:

10:30: Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) t. Italian All-Stars (Italië).

12:30: Boland Landbou t. Napier Boys High School (Nieu-Seeland).

13:30: Hilton College t. VSA Skolespan (Amerika).

15:00: Grey-kollege t. Christchurch Boys High (Nieu-Seeland).

16:30: Paul Roos Gimnasium t. Southland Boys High School (Nieu-Seeland).

Meer oor:  Skolerugby  |  Skolesport  |  Wêreld-Skolerugbyfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.