Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Wildeklawer se liplekker rugbystryde

Die bepalings van 2019 se Wildeklawer-rugbytoernooi het reeds aan liefhebbers van skolerugby ’n rede gegee om die kalenders te merk as een om nie mis te loop nie.

In een van die trekpleisters wat die afgelope paar jare veral verskeie taai stryde gesorg het, sal die Afrikaanse Hoër Seunskool en die Hoër Jongenskool Paarl se paaie weer kruis.

Henco van Wyk van die Hoërskool Monument in aksie teen Boland Landbou. Die twee spanne sal in 2019 by die Wildeklawer-toernooi weer paaie kruis. Foto: Marius Nortjé

Boishaai het in 2016 (29-25), 2017 (14-10) en in 2018 (19-14) elke keer net-net vasgebyt om die sege deur te trek, met die span van die Wes-Kaap wat in 2016 en 2017 nie ’n enkele keer teen plaaslike teenstanders die knie moes buig nie.

Affies sal voel dis hoogtyd dat die bordjies verhang word. Die span het in 2012 laas vir Boishaai omgedop toe hy met 22-14 die pyp gerook het.

Die twee skole het mekaar al 22 keer gepak sedert 1947 met Affies wat in 12 van die kragmetings die botoon gevoer het en Boishaai wat 10 keer aan die regte kant van die telbord geëindig het.

Die ander kragmeting waarvoor toeskouers hul lippe sal aflek, is wanneer twee van die ander reuse van Suid-Afrikaanse skolerugby, Grey-kollege van Bloemfontein en Paarl Gimnasium, die eerste keer sedert 2014 swaarde sal kruis.

Die span van die Rosestad was in sy laaste kragmeting met die Paarliete naelskraaps met 15-14 baas.

Gimmies sal daarop uit wees om die span wat in 2018 as die land se voorste eerste span geëindig het, te troef in wat beloof om ’n titaniese stryd te wees.

Gimmies het laas in 2012, met die Springboklosskakel Handré Pollard in hul geledere, daarin geslaag om Grey die loef af te steek. Hulle het toe oortuigend met 45-29 gewen, met Grey wat in 2011 met 14-10 baas was.

Transvalia sal ook ’n deeglike vuurdoop hê wanneer hy in sy buiging teen Gimmies speel.

Daarna sal Transvalia teen Boland Landbou te staan kom.

Garsfontein se Bere het ook ’n groot taak wat op hulle wag wanneer hulle teen Glenwood High School van Durban se Green Machine sal uitdraf.

* Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch het hom aan die toernooi onttrek nadat sy uitnodiging om aan die Sanix-jeugtoernooi in Japan deel te neem, goedgekeur is.

Paul Roos se plaasvervanger vir die Wildeklawer-toernooi moet nog bekend gemaak word. Sy plek kan moontlik deur ’n Saru-uitnodigingspan ingeneem word.

Die span van die Eikestad het in 2015, toe die skool sy 150ste bestaansjaar gevier het, as kampioene by die Sanix-toernooi uitgetree nadat hulle Brisbane Boys College van Australië met 35-3 verslaan het in die eindstryd.

Die bepalings is:

Donderdag, 2 Mei 2019

Noord-Kaap t. Helpmekaar

Welkom Gimnasium t. Waterkloof

Affies t. HTS Drostdy

Garsfontein t. onbepaald.

Hoër Jongenskool Paarl t. Glenwood

Transvalia t. Paarl Gimnasium

Monument t. Boland Landbou

Grey-kollege t. Oakdale Landbou

Diamantveld t. Stellenberg

Menlopark t. Outeniqua

Saterdag, 4 Mei 2019

Affies t. Hoër Jongenskool Paarl

Boland Landbou t. Transvalia

Grey-kollege t. Paarl Gimnasium

Menlopark t. Oakdale Landbou

Diamantveld t. Waterkloof

Welkom Gimnasium t. Stellenberg

Garsfontein t. Glenwood

Helpmekaar t. onbepaald

Noord-Kaap t. Outeniqua

Monument t. HTS Drostdy

Meer oor:  Boishaai  |  Wildeklawer  |  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.