Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
WP se jong spanne bult spiere

Die Westelike Provinsie se provinsiale spanne het Maandag, op die eerste dag van die o.16-Grant Khomo-week en o.13-Cravenweek wat by Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier gehou word, groot waarskuwings aan hul teenstanders gerig.

Conlinn Treurnicht van die Griffons duik oor vir sy drie teen die Valke op die eerste dag van die o.16-Grant Khomo-week by die Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier. Foto: Gallo Images

Die Streeptruie se o.16’s het veral amok gemaak teen die span van die Boland en 78 punte teen hul bure opgestapel.

Die Boland kon net een keer agter die WP-doellyn kuier en is met 78-7 afgeransel.

’n Driekuns aan drieë deur die regtervleuel Keagan Smith, tesame met twee deur sy vleuel-maat, Sulie Hartzenberg, het gehelp om die Bolanders se doppie te klink.

Die WP het teen rustyd reeds met 50-0 voorgeloop, voordat hulle die sout verder in die wonde gevryf het.

Die Vrystaat se o.16-span moes in ’n opwindende stryd terugveg om eindelik gelykop te speel teen die SWD-Arende.

Die 2018-kampioenspan was rustyd met 8-24 agter, voordat hy ná die omdraaislag vlam gevat het en vier keer gaan druk het om met 36-36 gelykop te speel.

Juann Else het twee keer vir die Vrystaat gaan druk, terwyl die SWD se buitesenter, Simeon Oosthuizen, ook twee vyfpunters aangeteken het.

Die Vrystaters se teenstanders in verlede jaar se nie-amptelike eindstryd, die Blou Bulle, se aanslag het op ’n teleurstellende noot afgeskop.

Die Pretorianers het in ’n taai stryd die knie gebuig voor die Oostelike Provinsie, wat met 15-13 die botoon gevoer het.

Die OP se binnesenter, Alfonso Isaacs, en die regtervleuel, Masande Mtshali, het albei gaan druk, terwyl die losskakel, Divan Moss, met ’n doelskop en ’n strafdoel sy span oor die wenstreep help kry het.

Die Goue Leeus het sonder te veel moeite met 31-17 met die Luiperds klaargespeel, terwyl die Pumas-vyftiental die nuwelinge, die Suid-Afrikaanse Iqhawe-span, wat deur die oud-Springbok Kabamba Floors gebrei word, met 32-26 getroef het in die doodsnikke.

Die Pumas het die Limpopo Blou Bulle met 29-10 laat les opsê, met die Griffons wat naelskraaps die Valke met 35-34 geklop het in ’n fees wat nege drieë opgelewer het.

* Die WP se laerskool-talent is ewe indrukwekkend, met die Kapenaars wat die Valke met 70-12 verneder het.

Die WP-buitesenter, David Simon, was vir vier van sy span se 12 drieë verantwoordelik en het boonop ook twee doelskoppe oorgeklits vir ’n persoonlike bydrae van 24 punte.

Die Blou Bulletjies het soos hul o.16-eweknieë met die OP kragte gemeet. Hulle het met 22-17 as oorwinnaars uit die stryd getree.

Vrystaat het sonder om te veel te sweet die span van Namibië met 27-7 afgestof, terwyl die Goue Leeus ook beïndruk het met hul wegholsege van 57-7 oor die span van Grens.

Die Griffons se verdediging het sterk gestaan in hul oortuigende oorwinning van 22-0 oor die Pumas, met die Haaie wat vir SWD met 31-5 oorrompel het.

* Uitslae:

o.16-Grant Khomo-week:

Dag 1:

Pumas-vyftiental 32, SA Iqhawe 26; Namibië 29, Grens Platteland 6; Griekwas 24, Zimbabwe 17; Goue Leeus 31, Luiperds 17; Griffons 35, Valke 34; Westelike Provinsie 78, Boland 7; Haaie 44, Grens 29; Oostelike Provinsie 15, Blou Bulle 13; Vrystaat 36, Suid-Westelike Distrik 36; Pumas 29, Limpopo Blou Bulle 10.

o.13-Cravenweek:

Vrystaat 27, Namibië 7; Griekwas 31, Zimbabwe 5; Luiperds 19, Grens Platteland 14; Blou Bulle 22, OP 17; Haaie 31, SWD 5; Goue Leeus 57, Grens 7; Limpopo Blou Bulle 27, Boland 24; WP 70, Valke 12; Griffons 22, Pumas 0.

Meer oor:  Cravenweek  |  Skolerugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.