Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
WP se skolerugby in warboel

Skolerugby in die Westelike Provinsie is in ’n warboel, met honderde spelers wat sommige naweke nie by wedstryde betrokke is nie.

Enersyds het die sogenaamde afrokkel van knap jong sportlui deur van die skole by ander skole nou sodanig opgevlam, dat sommige skole weier om teen mekaar te speel en heelwat geskeduleerde wedstryde gevolglik nie plaasvind nie.

HJS Paarl en SACS se eerste spanne in 2018 in aksie. Sportbande tussen dié skole is glo nou verbreek weens die beweerde afrokkel van ’n SACS-speler. Foto: Gallo Images

Andersyds heers daar ’n “ligte chaos” omdat die projek van saamgestelde ontwikkelingspanne (met spelers van die kleiner rugbyspelende skole), wat veronderstel is om van tyd tot tyd wedstryde teen skole in die Premierliga te speel, nie van die grond af kom nie. Dit bring mee dat die spanne van die Premierliga-skole dan Saterdae arms gevou sonder wedstryde sit, soos wat verlede naweek die geval was.

Die beweerde wegrokkeling van ’n besonder goeie rugbyspeler by SACS het verlede naweek daartoe gelei dat SACS nie sy weg oop gesien het om sy wedstryde teen Hoër Jongenskool Paarl te laat plaasvind nie. Ook die bande ten opsigte van ander sportsoorte tussen hierdie twee tradisieryke skole is nou geheel en al verbreek.

Wynberg Boys’ High het intussen ook besluit dat hy nie bereid sal wees om sy sportverpligtinge op 4 Junie teen HJS Paarl na te kom nie.

Dít volg op die Paarlse skool se beweerde “wegrokkeling” van ’n belowende rugbyspeler by Wynberg.

’n Bekommerde bestuurslid van die WP se hoërskole-rugbyunie (WPHSRU) het vandeesweek laat blyk dat ander geskeduleerde kragmetings ook in die slag kan bly, aangesien daar ook ander skole is wat hulle aan hierdie wanpraktyk skuldig maak.

Brendon Grant, SACS se skoolhoof, was hierdie week nie bereid om die verwikkelinge met die media te bespreek nie. Maar Jan de Waal, Wynberg se skoolhoof, voel gebelg dat Boishaai nie gehoor gegee het nie aan die “memorandum van verstandhouding” wat in 2018 opgestel is tydens ’n samekoms van die hoofde van die voorste rugbyspelende seunskole in die WP.

“Verteenwoordigers van HJS Paarl en die ouers van die topsportman wat hier by ons weggelok is, het ons nooit in die saak geken nie,” sê De Waal.

Hoewel dit wil lyk asof HJS Paarl nie sekere ooreenkomste nagekom het nie, sal alle moontlike pogings aangewend word om die betrokke skole spoedig weer teen mekaar te laat meeding.

Maar Derek Swart, die hoof van Boishaai, dui in ’n verklaring aan dat die gebeure op ’n “misverstand” berus. Volgens hom het die speleraanwinste van SACS en Wynberg “op eie inisiatief” van die betrokke spelers se ouers plaasgevind toe hulle by HJS Paarl ingeskryf is. Swart vertrou terselfdertyd dat die huidige situasie “van korte duur” sal wees en dat Boishaai bereid is om die kwessies binnekort met SACS en Wynberg te bespreek.

Intussen sit die uitvoerende bestuur van die WPHSRU met die hand in die hare oor hierdie onvoorsiene verwikkeling wat die WP se wedstrydprogram omver gooi.

“Hierdie is ’n lelike, hartseersaak,” het Kervin Grove, die voorsitter van die WPHSRU, Donderdag gesê.

“Hoewel dit wil lyk asof HJS Paarl nie sekere ooreenkomste nagekom het nie, sal alle moontlike pogings aangewend word om die betrokke skole spoedig weer teen mekaar te laat meeding.”

Die uitvoerende bestuur het die verwikkelinge die afgelope week op ’n dringende vergadering bespreek, maar “daar is in hierdie stadium nie ’n oplossing nie,” sê Grove. “Ons kan maar net probeer om die betrokke skole te oortuig om vorentoe wel weer teen mekaar te speel.”

Meer oor:  Skolerugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.