Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Cravenweek:
Zelt se nuwe reëls vir skole het tonge los

Die Westelike Provinsie gaan ’n nuwe kwotastelsel vir die WP se Cravenweekspan instel waarvolgens die getal spelers uit voormalige model C-skole beperk word.

Tussen 20% en 25% van dié provinsie se Cravenweekspan vir 2020 moet gekies word uit spelers wat nié uit voormalige model C-skole kom nie.

Zelt Marais

Zelt Marais, WP-rugby se president, het dié ingrypende nuwe kiesbeleid Dinsdagaand op Nuweland aangekondig toe hy WP se Cravenweekspelers se pette aan hulle oorhandig het.

Die nuwe kiesbeleid is bykomend tot bestaande kwotas en het skokgolwe in Kaapse skolerugby-kringe veroorsaak. Die provinsie het van die beste rugbyskole in die land, waarvan almal voormalige model C-skole is. Dié instellings is kweekskole vir spelers van kleur en ’n voedingsbron vir Suid-Afrikaanse rugby.

Skole soos Paul Roos, Paarl Gimnasium, Boishaai, Sacs, Bishops en Rondebosch is die ruggraat van die WP se skolerugby-struktuur en lewer jaarliks groot getalle top-spelers van kleur. Dié skole lok ook verskeie talentvolle spelers van elders.

In Kaapse skolerugbykringe word gevrees WP Rugby se nuwe beleid gaan meer skade doen as goed, veral omdat dit saamval met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se afskaling van jeugkompetisies weens geldelike redes. Die afskaffing van die nasionale o.19-liga, met net ’n o.21-liga wat vanjaar provinsiaal sal plaasvind, is erg ontmoedigend vir jong spelers.

Daar is kommer dat die nuwe kwotabeleid aan twee fronte ’n negatiewe uitwerking kan hê.

Dit sal voormalige model C-skole dalk laat besluit om minder beurse aan minder bevoorregte spelers te bied.

Spelers uit skole wat nie voorheen tot die C-model behoort het nie, sal moontlik ook nie reg gekondisioneer wees om aan die Cravenweek deel te neem nie.

Marais het by navraag gesê die verandering aan die nuwe kiesbeleid is geregverdig.

“Die Wes-Kaapse departement van sport en kultuur, in samewerking met die departemente van onderwys en openbare werke, moet verseker daar is genoegsame sportgeriewe by nie-model C-skole, veral die voorheen minder bevoorregte skole,” het Marais gesê.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling, in samewerking met die departemente van gesondheid en landbou en die tesourie, moet verseker dat sportleerlinge van dié skole voldoende kos, voeding en kondisionering kry om te verseker hulle word atlete van wêreldgehalte,” het Marais gesê.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Zelt Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.