Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Argentyne gaan vir 3 dae rou ná Maradona sterf

Die legendariese Argentynse sokkerspeler Diego Maradona is Woensdag aan ’n hartaanval by sy huis oorlede. Hy was 60 jaar oud.

Diego Maradona met die Wêreldbeker-trofee in 1986, wat Argentinië deels danksy sy heldedade verower het. Hy was dié uitstaande speler van daardie toernooi en het legende-status daarin verwerf.Foto: Getty Images

Die nuus van die sokkerikoon se dood het binne minute huldeblyke van oral oor die wêreld laat instroom. In sy geboorteland het die Argentynse president, Alberto Fernandez, aangekondig dat daar drie dae van rou in die land sal wees.

Maradona, wat op 30 Oktober 60 jaar oud geword het, het twee weke gelede ’n operasie gehad vir ’n bloedklont in sy brein.

Hy het langer as verwag in die hospitaal aangebly weens onttrekkingsimptome wat deur sy skielike onthouding van alkohol veroorsaak is.

Hy is ná sy ontslag na ’n rehabilitasiesentrum in die noorde van die hoofstad geneem waar hy vir sy alkoholprobleem behandel sou word.

Die uiters begaafde Maradona, wat die Wêreldbeker in 1986 in Mexiko saam met die Argentyne verower het, is wyd beskou as ’n genie met ’n sokkerbal. Hy sal as een van die beste spelers van alle tye onthou word.

Die buksie het die tonge laat klap met sy asemrowende vermoëns met die sokkerbal aan sy voete, maar ook met berugte oomblikke op en van die veld.

Die berugte ‘Hand van God’-doel wat Maradona in die WB-kwarteindstryd van 1986 teen Engeland aangeteken het, maak Britte tot vandag toe warm onder die kraag. Foto: Getty Images

Die oomblik waarvoor hy die beste onthou word was in die kwarteindronde van 1986 se Wêreldbeker-toernooi teen Engeland, toe hy sy omstrede Hand van God-doel aangeteken het. Die bal het van sy vuis af in die doelhok beland, maar is steeds toegeken.

Enkele minute later het die Argentyn Engelse ondersteuners weer met die hande in die hare gelaat – maar dié keer met ’n wettige doel wat wyd en syd as een van die bestes in die geskiedenis beskou word. Argentinië was daardie dag met 2-1 baas oor Engeland. Hulle het in die halfeindronde met België en in die eindstryd met Wes-Duitsland afgereken om wêreldkampioen te word.

Maradona, wat klubsokker vir Napoli, Barcelona en Boca Juniors gespeel het, was die afgelope jare gereeld in die hospitaal weens sy uitspattige leefstyl. Sy drank- en dwelmverwante probleme was geen geheim nie.

Daardie probleme het uitgekring na sy sokker. Maradona is tydens 1994 se Wêreldbeker-toernooi in Amerika vir 15 maande geskors nadat hy positief getoets is vir kokaïen.

Hy het beroepsokker in 1997 laat vaar.

Maradona is in 2004 na die hospitaal geneem met erge asemhalings- en hartprobleme wat verband gehou het met sy misbruik van kokaïen en het later rehabilitasie vir dwelms in Kuba en Argentinië ondergaan.

Diego Maradona tydens ’n wedstryd van Gimnasia y Esgrima La Plata. Foto: Getty Images

In die laaste anderhalwe dekade het Maradona so nou en dan ’n afrigtingspos beklee – hy het Argentinië in die WB-toernooi van 2010 in Suid-Afrika afgerig en was vanjaar nog die breier van Gimnasia y Esgrima La Plata – maar hy het die hoofopskrifte eerder vir sy persoonlike probleme gehaal.

In 2018 het hy byvoorbeeld tydens die Wêreldbekertoernooi in Rusland sy bewussyn verloor terwyl hy in ’n losie ’n wedstryd gekyk het.

Hy is in Januarie 2019 met inwendige bloeding in sy maag in die hospitaal opgeneem. – Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Argentinië  |  Diego Maradona  |  Oorlede  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.