Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Arsenal se nuwe era kan op vals noot begin

Arsenal se ondersteuners sal Sondag met ’n gevoel van opwinding, maar ook ligte angs en ’n knertsie vrees na die Emirates-stadion in Londen opruk. Dit is Arsenal se eerste wedstryd van die nuwe Engelse Premierliga-seisoen teen Manchester City.

Unai Emery, nuwe afrigter van Arsenal, moet vanjaar die groot skoene van Arséne Wenger vol staan. Foto: Reuters

Die Gunners het die eerste keer sedert 1996 ’n nuwe afrigter op die kantlyn, Unai Emery, en hy kon nie vir ’n moeiliker vuurdoop gevra het nie.

Manchester City het verlede seisoen weggehardloop met die Premierliga-titel en het boonop ’n uitstekende onlangse rekord teen Arsenal.

In dié klubs se drie kragmetings verlede seisoen het City met ’n doeletotaal van 9-1 gewen.

Asof dié begin nie moeilik genoeg is vir Emery nie, kom sy span in sy tweede kragmeting in ’n Londen-derby teen Chelsea, op dié se tuisveld, te staan.

Emery, ’n Spanjaard, is nie die enigste nuwe afrigter in die Premierliga wat vinnig sy stempel sal wil afdruk nie. Die ervare Italianer Maurizio Sarri is in Julie as die nuwe afrigter van Chelsea aangewys. Hy het sy landgenoot Antonio Conte vervang.

Chelsea se eerste wedstryd is Saterdag teen Hudderfield Town. Die Spanjaard Kepa Arrizabalaga, die wêreld se duurste doelwagter, sal na verwagting in dié stryd sy debuut vir die Blues maak. Die 23-jarige Arrizabalaga is teen ’n astronomiese bedrag van £71,6 miljoen (sowat R1,26 miljard) by Athletic Bilbao bekom.

Kepa Arrizabalaga het Chelsea meer as ’n R1 miljard uit die sak gejaag het. Foto: AP

Liverpool, wat self ’n rits kopies in die afseisoen gemaak het, kom Sondag teen West Ham United te staan. Jürgen Klopp se Reds is versterk deur die koms van die Brasiliane Allisson (ook ’n peperduur doelwagter) en Fabinho, asook Naby Keita van Guinee.

Liverpool sal hoop om die gaping tussen hom en Manchester City, wat verlede seisoen ’n volle 19 punte op die puntelys was, aansienlik te laat krimp.

Terwyl daar by Anfield (Liverpool se tuiste) met optimisme na die seisoen uitgesien word, was José Mourinho minder ingenome met die geld wat dié klub se base tot sy beskikking gestel het vir aanwinste.

Daarbenewens het ’n groot groep van sy spelers eers Maandag weer vir diens aangemeld nadat hulle in Julie nog by die Wêreldbeker-toernooi in Rusland betrokke was.

United begin sy veldtog Vrydagaand teen Leicester.

Tottenham Hotspur, wat in 2017 derde geëindig het, het nie ’n enkele nuwe speler aangekoop voordat die venster-tydperk vir nuwe aanwinste Donderdag verstryk het nie.

Dié span, wat in September sy intrek in ’n splinternuwe stadion met sitplek vir 62 000 toeskouers sal neem, begin sy veldtog met ’n wegwedstryd teen Newcastle.

Spurs sal vanjaar onder druk wees deur spanne soos Chelsea en Arsenal om in die topvier op die puntelys te eindig.

West Ham, wat self sy tjekboek rojaal aangewend het om nuwe spelers te bekom, kan moontlik ook vanjaar met die tradisionele swaargewigte meeding. – Reuters

* Die naweek se wedstryde is: Vrydag: 21:00 (SA tyd): Manchester United t. Leicester. Saterdag: 13:30: Newcastle t. Tottenham Hotspur; 16:00: AFC Bournemouth t. Cardiff City; Fulham t. Crystal Palace; Huddersfield Town t. Chelsea; 18:30: Wolverhampton Wanderers t. Everton. Sondag: 14:30: Liverpool t. West Ham; Southampton t. Burnley; 17:00: Arsenal t. Manchester City.

Meer oor:  Arsenal  |  Premierliga  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.