Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Arsenal skiet ‘blanks’ teen West Ham

West Ham het Arsenal gister op die Olimpiese Stadion lelik bloedneus gegee in die Engelse Premierliga toe hy met 1-0 maar sy tweede oorwinning in 24 probeerslae oor die Gunners kon behaal.

Arsenal was vrotsig en die Hammers meestal in beheer, sonder om te veel uitsonderlike goed te doen. Dit was die eerste maal in 20 Premierligawedstryde dat Arsenal nie ’n doel kon aanteken nie. Om sout in hul wonde te vryf, het hul oudspeler Samir Nasri die aangee vir West Ham se wendoel gemaak ná treurige verdediging deur die besoekers.

Declan Rice van West Ham United is in sy noppies nadat hy die wendoel vir sy span teen Arsenal aangeteken het. Foto: Getty Images

Die verdedigende middelvelder Declan Rice het dit gebêre, maar deurgaans getoon dat ons nog baie van dié tiener gaan hoor. Gister het hy die Gunners se kruit behoorlik papsopnat gespeel.

Later het Liverpool sy voorsprong op die puntelys na sewe vergroot deur Brighton op dié se tuisveld met 1-0 te klop, maar oorwinnings vandag vir Tottenham Hotspur of veral Manchester City, môreaand tuis teen Wolves, kan dit weer tot soveel as vier laat krimp.

Die voorlopers was onoortuigend genoeg dat hul ondersteuners ’n senutergende seisoenpylvak tegemoet gaan. Ondanks oorweldigende balbesit het net ’n strafdoel deur Mo Salah die spanne uiteindelik geskei.

Vandag sal Spurs op Wembley die wedergeboorte van Manchester United behoorlik op die proef stel.

Verlede week was die eerste maal dat Ole Gunnar Solskjaer, United se waarnemende bestuurder, veel taktiese werk met sy span kon doen ná die holderstebolder Kersprogram. Hy erken self dat hy tot dusver eintlik net met sy span se sielkunde kon werk.

Hoe het hy dié nie omgetower ná die ellendige jare onder die stroewe José Mourinho en sy stroewer spelpatroon nie.

Daar is duidelik weer kole onder die Rooi Duiwels, maar hul getrou­ste ondersteuners sal erken dat hulle nie werklik beproef is in die vyf oorwinnings op ’n streep waartoe die nuwe besem hulle gevee het nie.

Spurs is ’n takties geoliede mas­jien ná ’n paar seisoene van Mauricio Pocchetino se uitgeslape bestuur en dis dié dat Pocchetino in United se visier is om aan die einde van dié seisoen by Solskjaer oor te neem.

Beserings aan Eric Dier en Victor Wanyama knou die Spurs-middelveld as dit by die verdediging kom en Harry Winks is geskors. Dis slegte nuus as jy Paul Pogba op die oomblik aan bande moet lê.

Onder Solskjaer speel hy met vryheid en saai verwoesting. In sy laaste vier wedstryde het hy vier doele geskiet en drie geskep.

Solskjaer het United se voorheen negatiewe benadering behoorlik omgekeer en deesdae is hul heelagters blitsig vorentoe om Pogba en kie te help amok maak.

Vandag, teen gedugter teenstanders, sal die benadering stellig effens meer negatief wees, omdat Spurs self met geniepsige teenaanvalle vorendag kan kom. Tottenham se voorste viertal van Harry Kane, Son Heung-min, Dele Alli en Christian Eriksen ken selde hul weerga.

Kane het vanjaar doeltreffend van dieper af begin speel om nóg ’n pyl in sy propvol koker te sit, terwyl Pocchetino-hulle deesdae nie skaam is om meer direkte sokker met lang aangeë te speel as dit moet nie.

’n Hiper-aanvallende benadering deur United kan gate agter los vir Kane-hulle om die duiwel uit die Duiwels te haal.

Meer oor:  West Ham  |  Arsenal  |  Manchester United  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.