Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Bafana by kruispad in groepstryd

Bafana Bafana het die vermoë om ’n gemors van ’n piesangskilwedstryd te maak soos met die beslissende laaste groepwedstryd teen Libië ter kwalifisering van die Afrikabeker-sokkertoernooi.

Die vraag is of Suid-Afrika soos ’n feniks in Sfax kan verrys in dié bepalende stryd.

Suid-Afrika se Thulani Hlatshwayo en die land is Saterdag op hul knieë sodat Bafana Bafana vir die Afrikabeker-toernooi moet kwalifiseer. Foto: Gallo Images

Bafana Bafana hoef net gelykop te speel in die spanne se laaste groepwedstryd Sondag om sy plek te bespreek in die Afrikabeker-toernooi wat in Junie in Egipte afskop.

Die yl gesaaide positief denkende Bafana-ondersteuners sal daarop wys dat Suid-Afrika in die eerste wedstryd van sy veldtog, ook ’n wegwedstryd, daarin geslaag het om Nigërie in Uyo met 2-0 te skok.

Dit was die eerste wedstryd van Stuart Baxter, die afrigter, se tweede termyn aan die stuur. Hoewel Suid-Afrika nog onoorwonne is in die groepfase is sy kop nou op ’n blok.

’n Tweede agtereenvolgende Afrikabeker-toernooi, wat intussen tot 24 deelnemers in plaas van 16 vergroot is, sonder Bafana, sal sy einde beteken.

Die twee gelykopuitslae teen die Seychelle (0-0) in Victoria en die einste Libiërs (0-0) in Durban het Baxter se kritici laat kwetter. Dis ook die rede waarom Suid-Afrika tot sy laaste groepwedstryd nog moet sweet.

Van bekommernisse gepraat – die doelskieter Keegan Dolly, wat in die eerste wedstryd teen Libië gespeel het, moes hom intussen weens ’n stywe dyspier onttrek.

Hy was die laaste ruk ’n plaasvervanger by Montpellier, maar is fiks verklaar om die reis na Noord-Afrika mee te maak.

“Hy het goed gevaar in ons oefeninge, maar moes toe weggelaat word oor die dyspier. Die verskillende weerstoestande, asook verskillende speeloppervlaktes van die week het probleme veroorsaak,” sê Baxter.

Libië se verdedigers sal vir die eerste keer te doen kry met Percy Tau en Lebo Mothiba, wat in ’n gevaarlike kombinasie aan die voorpunt vir Suid-Afrika ontwikkel het.

Elkeen het reeds twee doele in die veldtog aangeteken.

Suid-Afrika het vandeesweek nog gewik en weeg watter doelwagter – Darren Keet of Ronwen Williams – moet speel in die afwesigheid van die beseerde Itumeleng Khune.

Suid-Afrika het Vrydag van Tunis na Sfax vertrek, waar 3 000 Libiese ondersteuners op hom wag met vergunning van die land se ministerie. Die wedstryd is na die aangrensende Tunisië verskuif weens die politieke oproer in Libië.

Die Mediterranean Knights moet die wedstryd wen om plekke met Bafana te ruil en saam met Nigerië in die groep te kwalifiseer,

TV: Sondag 18:50 op SS4 en SS10.

Meer oor:  Afrikabeker  |  Bafana Bafana  |  Libië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.