Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Bafana moet ‘regstel wat verbrou is’

Wanneer Bafana Bafana Sondag teen Libië op die veld stap, moet hulle sake regstel wat in Oktober teen die Seychelle verbrou is, sê Ronwen Williams, doelwagter van Suid-Afrika.

Dit kom nadat Bafana met 0 elk teen die Seychelle gelykop gespeel het, net dae nadat hy die span op tuisbodem met 6 – 0 verniel het. Dus is Sondag se kwalifiserende wedstryd vir die toernooi om die Afrikabeker (Afcon) nie sommer ’n hierjy-wedstryd nie.

Dean Furman in Bafana se kragmeting teen Libië in 2018 in Durban. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika benodig ’n enkele punt om vir die toernooi in Egipte te kwalifiseer, terwyl Libië drie punte Sondag in Sfax, Tunisië, moet kry om sy plek te bespreek.

Nigerië, tans boaan Groep E, het reeds gekwalifiseer.

Williams besef terdeë dat daar geen wegkruipkans vir Bafana, wat Sondag minstens ’n gelykop uitslag benodig, is nie.

“Ons weet dat ons in die wedstryd teen die Seychelle verbrou het. Dit was die volmaakte geleentheid om, nadat ons ses doele (in die vorige wedstryd) teen hulle aangeteken het, die uitklophou te plant en te kwalifiseer.

“Ons weet dat ons dit moeilik vir onsself gemaak het, tog is dit lekker om te weet daar is nie niks in die komende wedstryd op die spel nie. As ons op die veld gaan, sal ons moet veg.

“Dit is hoe dit in die Afrika-beker gaan wees. Elke wedstryd gaan ’n moet-wen wees, so dit is goeie voorbereiding en is vir ons ’n toets. Ons moet wys dat ons reg is en dit kan doen. Ek sal sê as ons Libië kan klop, is ons gereed,” sê Williams.

Intussen sê die middelveldspeler Dean Furman die span weet maar te goed wat op die spel is.

“As spelers is dit die tipe wedstryde wat jy wil speel omdat daar soveel op die spel is. Dit is wonderlik om hier te wees, ons is gefokus op die Afrika-beker en moet doen wat van ons verwag word.

“Ek was by die wedstryd teen Nigerië en die ouens het hul goed van hul taak gekwyt. Ons moet onthou dat ons onoorwonne in die groep is en as ons dit so kan hou, sal ons kwalifiseer,” sê Furman.

Stuart Baxter, afrigter van Bafana, was tevrede met wat hy Maandag gesien het in sy span se eerste oefensessie in die Tunisiese hoofstad, Tunis.

Kul jou hier, kul jou daar! Suid-Afrika se Dean Furman ontwyk Colin Esther van die Seychelle in die twee spanne se wedstryd in 2019 in Johannesburg. Foto: Gallo Images

“Ons het ’n goeie sessie gehad. Ons het aan taktiek gewerk gedurende ons sessie van 90 minute en ek is beïndruk met hoe die spelers gereageer het,” sê Baxter.

“Hulle lyk almal baie skerp en reg om dit uit te spook vir ’n plek in die span. Ons het ’n goeie groep hier en ek glo dat as ons as saamwerk, gedissiplineerd is en die wedstryd teen Libië geniet, ons die uitslag sal kry wat ons wil hê.”

Die oefensessie was wel nie sonder voorval nie. Die doelskieter Keagan Dolly het op ’n kol oor ’n seer dyspier gekla. Die mediese span het hom ondersoek en net daar enige vrese besweer dat hy ernstig beseer is.

Bafana sal aanhou voorberei in Tunis totdat hulle Donderdag na Sfax vertrek en hul voorbereidings sal afsluit. – Sport24, Sportredaksie

Meer oor:  Dean Furman  |  Bafana Bafana  |  Stuart Baxter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.