Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Baxter-pos ‘nie in gevaar’ nadat Bafana verloor

Stuart Baxter het uitsonderlik goed gedoen om Bafana Bafana in die kwarteindstryd te kry. Hulle het ’n kontrak met hom wat hulle eerbiedig en dis nie nodig om oor hom te praat nie.

So het Russell Paul, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa), in ’n neutedop gesê nadat Nigerië Bafana Woensdagaand met 2-1 in Kaïro geklop het in die kwarteindronde van die Afrikabeker-toernooi.

Stuart Baxter troos sy spelers ná hul nederlaag teen Nigerië in die kwarteindronde van die Afrikabeker-toernooi. Foto: Gallo Images

Volgens Paul wag Safa nou op die breier se verslag van die toernooi in Egipte, waarna dit ontleed sal word en sake verder in oënskou geneem sal word met die oog op toekomstige Afrikabeker- en Wêreldbeker-toernooie.

Nigerië het Suid-Afrikaanse harte gebreek toe hy die wendoel ’n minuut voor die eindfluitjie aangeteken het.

Bafana Bafana het voor die wedstryd die opskudding van die toernooi gelewer deur die gasheer te verras.

Baxter sê volgens Safa.net om so reg teen die einde te verloor, nadat hulle vroeër teruggeveg het om die telling gelykop te maak, was ’n bitter pil.

“Ons was in die eerste helfte nie dapper genoeg nie. Ons het hulle in die tweede helfte meer probleme besorg, maar toe kon ons ongelukkig nie weer toeslaan nie.

“Nigerië het goeie spelers, die span is ’n goed georganiseerd en is altyd gevaarlik. Ons het nie so goed verdedig soos ons kon nie.”

Baxter sê die besluit om vorentoe te druk het hulle aan bande gelê op die vleuels, waar daar ruimte gelaat is.

Ons was in die eerste helfte nie dapper genoeg nie.

Hy wys ook dat die beslissende doel van William Troost-Ekong (wat vir Udinese in Italië speel) ná ’n vaste faset en nie uit gebroke spel gekom het nie.

“Ons het die wedstryd teen die einde probeer wen, maar hulle het die wendoel in die doodsnikke gekry. Dis moeilik om te aanvaar, maar ek moet Gernot (Rohr, Nigerië se afrigter) en sy span gelukwens.”

Baxter se kontrak met Safa geld nog tot en met 2022 en hy het daarop gewys dat hulle in die afgelope jaar en ’n half ’n goeie lopie tot en met die Afrikabeker-toernooi gehad het.

Dít het begin met ’n wegoorwinning oor die einste Nigerië, waarna Suid-Afrika onoorwonne was in die kwalifiserende wedstryde.

Baxter wys daarop dat die span sedert sy sege oor die Super Eagles in Junie 2017 in Uyo omtrent 30 debutante gehad het.

Baxter het volgens Reuters gesê Suid-Afrika het indrukwekkende planne vir die ontwikkeling van die spel in die land, maar hy wys ook daarop dat die implementering daarvan beter moet wees. Hy sê enige strategie moet deur almal ondersteun word.

Sy uitlating blyk op Safa gemik te wees, hoewel hy die beheerliggaam nie by die naam genoem het nie.

Meer oor:  Afrikabeker  |  Nigerië  |  Bafana Bafana  |  Stuart Baxter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.