Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Baxter vies oor spelers bang raak
Samuel Kalu van Nigerië en Suid-Afrika se Percy Tau spook om besit van die bal. Foto: Gallo Images

Hulle sal “met die messe teen die keel” in Maart reg wees daarvoor.

Dit is die waarborg wat Stuart Baxter gegee het nadat Bafana Bafana Saterdag in die FNB-stadion met 1-1 gelykop teen Nigerië gespeel het.

Hulle moet nou tot hul heel laaste groepwedstryd teen Libië wag om te probeer kwalifiseer vir die toernooi om die Afrika-beker.

Die nasionale breier het vroeër gesê hy sal bedank indien Suid-Afrika nie vir die skouspel volgende jaar in Kameroen kwalifiseer nie.

Hoewel Suid-Afrika die enigste onoorwonne span is, sal hy eers op 22 Maart weet wat sy lot is. Hy hoef net gelykop teen Libië te speel om te kwalifiseer.

Dié wedstryd sal stellig, afhangende van die politieke oproer in Libië, in Tunisië of Egipte gespeel word.

Baxter was teleurgesteld omdat sy spelers later in hul doppe gekruip het. Dis volgens hom dalk uit vrees om nog ’n doel af te staan.

Ons het vier punte van die Super Eagles geneem en die enigste doel wat ons tot dusver in die toernooi afgestaan het, was ’n eie doel.
Stuart Baxter

“Ek is ’n bietjie teleurgesteld, maar terselfdertyd ook so ’n bietjie trots. Ons het vier punte van die Super Eagles geneem en die enigste doel wat ons tot dusver in die toernooi afgestaan het, was ’n eie doel,” het Baxter aan SuperSport gesê.

Nigerië het in die agtste minuut die voortou geneem toe Samuel Kalu se dwarsskop deur Bafana se Buhle Mkhwanazi in sy eie net gedeflekteer is.

“Ek is teleurgesteld omdat ons nie dapperder was nie.”

Baxter sê daar is met die rustyd gepraat oor waar hulle Nigerië probleme gee.

Maar in die tweede helfte het hulle afgewyk van daardie spel wat die besoekers met tye oorhoops gehad het.

Dit lyk of die Bafana-breier, Stuart Baxter, bid vir beter vertonings.Foto: Gallo Images

“Dis ’n teken van senuwees, dat ons nie ’n doel wil afstaan nie, eerder as om een aan te teken.”

Hy sê die onvermoë om die uitklophou te plant in die laaste kwartier, met die besoekers uit op hul voete, het niks met spankeuse te make nie, maar dat dit eerder iets sielkundig is.

Nigerië se afrigter, Gernot Rohr, het erken sy span het in die tweede helfte in die hitte gesukkel. Hy wys ook daarop dat hulle eers Vrydag in die oggendure, met min slaap agter die blad, in die land aangekom het.

Rohr waarsku Libië is gedug in sy tuiswedstryde, maar glo nietemin Suid-Afrika sal saam met die Super Eagles die ander kwalifiseerder in Groep E wees as hy speel soos hy Saterdag gespeel het.

Hy het Suid-Afrika se Percy Tau as ’n wonderlike speler uitgesonder.

Tau het Bafana Bafana se gelykmaker in die 25ste aangevoor met ’n goeie individuele lopie, waarna Lebo Mothiba afgerond het.

Tau was die Speler van die Wedstryd, maar die eer kon net sowel aan Ahmed Musa gegaan het.

Die Nigeriese kaptein het oral opgeduik en was ’n keer of wat ongelukkig. Nigerië sal dalk brom oor twee onkantbeslissings, reg aan die begin en in die 83ste minuut, toe Musa, wat voorheen vir Leicester gespeel het, se doel nie toegelaat is nie.

Puntestand met een wedstryd oor in Groep E: Nigerië 10; Suid-Afrika 9; Libië 7; Seychelle 1.

Meer oor:  Percy Tau  |  Stuart ­Baxter  |  Johannesburg  |  Afrikabeker  |  Nigerië  |  Bafana Bafana  |  Super Eagles  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.