Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Blaps kos Bafana plek in halfeind

’n Liederlike blaps op die verdediging het Bafana Bafana Woensdagaand ’n plek in die halfeindronde van die Afrikabeker-toernooi in Egipte gekos.

Nigerië, Bafana se aartsvyande, was met 2-1 baas nadat William Troost-Ekong die wendoel in die 89ste minuut aangeteken het.

Bafana se verdedigers het konsentrasie verloor met ’n hoekskop en Ekong kon seker nie sy geluk glo toe die bal voor sy voete beland met g’n enkele verdediger tussen hom en die doelhok nie.

Vreugde en trane. Nigerië se Chiderle Awaziem vier sy span se sege Woensdagaand in Kaïro met ’n verslae Thulani Hlatshwayo, kaptein van Bafana, wat toekyk. Foto: AP

Ronwen Williams, Bafana se doelwagter, was hopeloos uit posisie nadat sy halfhartige poging om die bal met die vuis weg te stamp misluk het.

Bafana het vroeër goed teruggeveg in die tweede helfte nadat Nigerië rustyd met 1-0 voorgeloop het. Die Nigeriërs se eerste doel het ook gevolg nadat Bafana se verdedigers in die 27ste minuut aan die slaap gevang is.

Die geluk was boonop aan die 20-jarige Samuel Chukwueze se kant omdat hy die bal teen Buhle Mkhwanazi vasgeskop het, maar dit teruggespat en weer voor sy voete beland het waarna hy Williams geklop het.

Dit was sy eerste doel vir Nigerië en was omtrent die enigste hoogtepunt in ’n redelike saai eerste helfte.

Bafana was maar flou in die eerste 45 minute, maar het heelwat beter in die tweede helfte gespeel en hul doel in die 71ste minuut was geensins onverdiend nie.

Die hulp van die TV-skeidsregter is ingeroep omdat dit gelyk het of Bongani Zungu onkant was toe hy die bal ná ’n vryskop met die kop in Nigerië se doelhok gestamp het.

Dit was egter in die stadige aksie van die kykweer duidelik dat die bal ’n Nigeriese verdediger geraak het voordat Zungu dit met die kop beetgekry het.

Dit het gelyk asof die wedstryd in bykomende tyd beslis sou word en Stuart Baxter, die Suid-Afrikaanse afrigter, het Lars Veldwijk vyf minute voor die einde opgestuur in die hoop dat sy vars bene in Bafana se guns sou tel.

Dit was egter ’n Nigeriese speler wat in Nederland gebore is wat die laaste sê gehad het . . .

Meer oor:  Afrikabeker  |  Nigerië  |  Bafana Bafana  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.