Terwyl Stuart Baxter se pos as afrigter van Suid-Afrika se sokkerspan skynbaar veilig is, het verskeie van sy eweknieë se koppe reeds gerol nadat hul spanne nie die Afrikabeker-toernooi in Egipte kon wen nie.

Paul Put is sy pos as Guinee se afrigter kwyt. Dieselfde lot het verskeie ander afrigters van Afrikaspanne die afgelope week getref. Foto: Getty Images
Paul Put, breier van Guinee, is Maandag die trekpas gegee, al het sy span die uitkloprondes gehaal. Ricardo Mannetti, afrigter van die Namibiese span, wat moedig vertoon het, maar geen wedstryde kon wen nie, is ook nie ’n kontrak-verlenging aangebied nie.
Die toekoms van Marokko se gerespekteerde breier, Hervé Renard, is ook in die weegskaal nadat die onbesonge Benin sy span uit die toernooi geboender het.
Hoewel die media in Marokko bespiegel het dat sy doppie geklink is, het Renard slegs ’n vae verklaring uitgereik waarin hy bevestig dat hy en die land se sokkervereniging vergader het oor die span se vertoning in Egipte.
Die afrigters van Egipte, Tanzanië en Uganda het ook reeds hul poste verlaat ná teleurstellende vertonings deur hul spanne.
* Senegal en Algerië pak mekaar Vrydagaand in Kaïro in die eindstryd van die Afrikabeker-toernooi. – Reuters, Sportredaksie