Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Britte vergader oor kuberboelies

Vooraanstaande Britse sokkerspelers, wat Jordan Henderson, Liverpool se kaptein, en Karen Carney, ’n voormalige internasionale speler, insluit, het Maandag met ministers vergader om die kwessie van aanlyn boelie en diskriminasie te bespreek.

Oliver Dowden, minister van kultuur, en Nigel Huddleston, minister van sport, was deel van ’n reeks besprekings getiteld “Toekoms van Sokker”.

Die Britse regering kyk na nuwe wetgewing om sosialemediamaatskappye aanspreeklik te hou vir gebruikers se aanlyn gedrag. Dié nuwe wetgewing sal vanjaar nog in die parlement ter tafel gelê word.

Karen Carney, ’n voormalige internasionale speler wat deesdae as sokkerkenner op Britse TV werk, is aanlyn beledig nadat sy kritiek oor Leeds United uitgespreek het. Foto: Getty Images

“Dit het ’n mens nederig laat voel om te hoor tot watter mate die spelers aanlyn geboelie en beledig word,” sê Dowden in ’n verklaring.

“Hul insette vandag het my vasbeslote gemaak om nuwe wetgewing in te stel wat sosialemediaplatforms meer aanspreeklik sal maak.”

Carney het vandeesmaand haar Twitter-rekening gesluit nadat sy – in haar rol as sokkerkenner op TV – sekere aanmerkings oor die Premierliga-klub Leeds United se spel gemaak het.

Dié klub het op sy amptelike Twitter-rekening ’n bespotting van Carney se uitsprake gemaak en dít het tot ’n vloedgolf van verdere aanlyn boelie gelei.

Die Chelsea-doelskieter Bethany Engeland het ná dié gebeure gesê dat Carney die slagoffer van “kuber-boelies” was en “massa- aanlyn boelie moes verduur net omdat sy haar werk gedoen en ’n mening uitgespreek het”.

Troy Deeney (Watford se kaptein), Anton Ferdinand (voormalige West Ham-speler) en Tyrone Mings, wat vir Aston Villa speel het ook die vergadering bygewoon.

Mings het in 2019, tydens ’n wedstryd vir Engeland in Bulgarye, deurgeloop onder rassistiese beledigings toe toeskouers aapgeluide gemaak het wanneer hy en ander swart Engelse spelers in besit van die bal was.

Ferdinand se ervarings, asook ’n rassetwis wat hy in 2011 met die voormalige Engelse kaptein John Terry gehad het, het deel gevorm van ’n onlangse BBC-dokumentêr, Football, Racism and Me.

Henderson het ná die besprekings gesê dit was ’n uiters belangrike vergadering en dat dit vir hom verblydend is dat diegene met mag en gesag nou besef hoe ernstig die boelie is wat spelers moet verduur en bereid is om op te tree daarteen. – Reuters

Meer oor:  Kuberboelies  |  Engelse Premierliga  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.