Roman Abramovich, eienaar van Chelsea, is nog ten volle toegewyd aan dié Engelse sokkerklub en stel hoegenaamd nie belang in enige “winskopie-aanbiedinge” vir die Blues nie.
Só het Bruce Buck, Chelsea se voorsitter, vure probeer doodslaan nadat Abramovic nog nie by enige van sy span se tuiswedstryde opgemerk is vanjaar nie.

Roman Abramovich en Cesar Azpilicueta vier Chelsea se oorwinning in die eindstryd van die Europaliga-reeks teen Arsenal vroeër vanjaar. Foto: Getty Images
Dié Russiese miljardêr sukkel glo tans om sy Britse visum hernieu te kry en het ook planne geskrap om Stamford Bridge te herontwikkel.
Dít het gelei tot bespiegeling in die Britse media dat Abramovich, wat verlede jaar Israeliese burgerskap verkry het, sy lus vir die klub verloor het en op die uitkyk was vir ’n koper.
“Abramovich het nog nie ’n enkele keer al die moontlikheid genoem dat hy die klub wil verkoop nie,” het Buck gesê.
“Vanweë die politieke situasie (Chelsea word tans weens die oortreding van kontrakregulasies deur die Internasionale Sokkerfederasie verbied om aanwinste te bekom) is daar mense wat dink hulle kan die klub vir ’n winskopie bekom. Ons kry sulke navrae, maar het niks om vir dié mense te sê nie.”
Volgens Buck is Abramovich ook steeds nou betrokke by besluite oor die verlenging van bestaande kontrakte, al dan nie.
Hoewel Chelsea se hoofafrigter, Frank Lampard, tans met ’n onervare groep spelers oor die weg moet kom, beklee die Londense klub die vierde plek op die Premierliga-puntelys.
“Die verbod op nuwe spelers het meer geleenthede vir die jong spelers geskep. Dis iets wat mnr. Abramovich gelukkig maak, want hy stel baie belang in die doen en late van ons akademie. Hy is waarskynlik een van min klubeienaars wat gereeld ons akademie se wedstryde bywoon,” het Buck gesê.
– Reuters