Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Chelsea-sterre: Vrouesokker se ‘glanspaartjie’

Chelsea se Magdalena Eriksson en Pernille Harder is spanmaats, lewensmaats en tel onder die beste vrouesokkerspelers in Europa.

Magdalena Eriksson (links) en Pernille Harder warm saam op vir Chelsea voor ’n wedstryd teen Arsenal op 7 Oktober. Foto: Getty Images

Hulle het tussen hulle talle trofees verower, in meer as 160 internasionale wedstryd gespeel, in Olimpiese, Europese en Kampioeneliga-eindstryde uitgedraf – en dit is sonder om hul individuele prestasies te noem.

Nadat Eriksson, ’n verdediger, Swede gehelp het om Kanada om ’n plek in die kwarteindronde in verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk te klop, het sy Harder, ’n Deense internasionale speler, op die paviljoene uitgesoek en haar gesoen.

Dié “natuurlike” oomblik is deur ’n fotograaf afgeneem en die kiekie het blitsig op sosiale media versprei. Eriksson en Harder het sedertdien prominente figure vir gay paartjies in vrouesokker geword.

Die foto wat blitsig op sosiale media versprei het. Foto: Fifa.com

“Dit was nooit ons voorneme om dit te wees nie,” sê Eriksson.

“Ons was net oop en eerlik van die begin af, ons is onsself en geniet suksesvolle loopbane. Op die ou end het sake eenvoudig net so verloop.”

Die voormalige Norwich- en Nottingham Forest-doelskieter Justin Fashanu was in 1990 die eerste manlike Engelse beroepspeler om te erken hy is gay terwyl hy nog gespeel het. Hy is steeds die enigste manspeler om dit te doen terwyl hy aktief meegeding het in die boonste liga.

Eriksson en Harder glo albei dit gaan ’n ruk wees voordat meer manspelers uit die kas klim terwyl hulle nog beroepsokker speel.

“Ek dink ons is nog ver daarvan af weg,” sê Harder. “Maar ek hoop ons slaan in die toekoms daardie koers in. Dit verg net die eerste een om dit te doen en die stap te neem, dit is die belangrikste.”

Eriksson sê: “Die kultuur van aanvaarding is nie groot genoeg in mansokker nie. Dit is nie ’n individuele verantwoordelikheid om uit te kom nie, dit is ’n kollektiewe verantwoordelikheid om die omgewing so veilig moontlik te maak vir die een persoon wat dapper genoeg is om dit te doen.”

“Magda”, soos Eriksson aan haar spanmaats bekend is, is Chelsea se kaptein en het onlangs haar kontrak tot 2023 verleng.

Harder, wat grappies maak dat sy “ook kaptein is by die huis”, sê dit is ’n “plus” om in staat te wees om saam met Eriksson te speel nadat sy die duurste aanwins in die geskiedenis van vrouesokker geword het toe Chelsea haar vroeër vanjaar by Wolfsburg opgeraap het.

“Dit was nie ’n moeilike besluit nie. Ek het gevoel die tyd is ryp vir my om iets nuuts te probeer. Magda speel hier, wat uiteraard ’n plus is, maar dit was nie wat my hierheen gelok het nie,” sê Harder.

“Om in dieselfde land te wees en dan hier by Chelsea saam te speel . . . uiteraard is ek verheug, nie net omdat ons uitgaan nie maar omdat sy werklik ’n goeie sokkerspeler en leier is.”

Volgens Eriksson is Chelsea die “perfekte pasmaat” vir Harder en dit was nie nodig om haar te oortuig om haar by die klub aan te sluit nie.

“Chelsea het bewys ons is een van die voorste spanne in die Engelse liga en ons het die liga verlede seisoen gewen,” sê sy.

“Pernille wil vir spanne speel wat wen, wat trofees verower en die hoogste ambisies koester.”

Harder, ’n doelskieter, het Wolfsburg gehelp om vier agtereenvolgende Duitse liga- en bekertitels te verower voordat sy haar by Chelsea aangesluit het.

Sy was aan die spits van haar land se veldtog na die eindstryd van Euro 2017 en was Uefa, die beheerliggaam vir sokker in Europa, se Speler van die Jaar in 2018 en 2020.

Harder sê dit was “haar droom” om die beste te wees vandat sy as tienjarige ’n opstel geskryf het oor haar behoefte om ’n beroepsokkerspeler te word.

“Die doelwit om die beste in die wêreld te word is iets wat ’n mens mettertyd verdien. Jy vermag dit nie binne een seisoen nie. Dit is waaraan ek werk,” sê sy.

– Sportredaksie, BBCSport

Meer oor:  Vrouesokker  |  Lgbtiq+  |  Gays  |  Chelsea  |  Vrouesport  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.