
Janine van Wyk, kaptein van Banyana Banyana, se skuif na Glasgow City maak opslae in Skotse sokker. Foto: Getty Images
Glasgow City beskryf sy nuutste aanwins, die Suid-Afrikaanse kaptein Janine van Wyk, as “een van die noemenswaardigstes in die geskiedenis van Skotse vrouesokker”.
Van Wyk, ’n verdediger en Banyana Banyana se mees ervare speler met 170 wedstryde, het Suid-Afrika by sy debuut by die Wêreldbekertoernooi verlede jaar aangevoer.
Beserings het die 33-jarige Van Wyk genoop om die Deense klub Fortuna Hjorring in Januarie te verlaat.
Van Wyk het agt jaar gelede haar eie klub, JVW, in Suid-Afrika gestig om plaaslike vrouetalent te help identifiseer en ontwikkel.
The Times berig City se afrigter, Scott Booth, sê van Wyk se “ongelooflike ervaring” sal deurslaggewend wees vir sy span wat op 21 Augustus in die kwarteindronde van die Kampioeneliga teen Wolfsburg in San Sebastián, Spanje, te staan kom.
Laura Montgomery, die klub se bestuurder, sê: “Haar rekord is ongelooflik op en van die veld wat betref wat sy vir meisies en vrouesport in haar eie land doen, asook haar werk in die bevordering van gelykheid.”
Van Wyk het Moroko Swallows en Palace Super Falcons in Suid-Afrika verteenwoordig en ook ’n draai by die Houston Dash in Amerika gemaak.
Sy is die SWPL 1-kampioen se derde nuwe aanwins nadat City vroeër die dienste van die doelskieter Krystyna Freda en die verdediger Zaneta Wyne bekom het. – Sportredaksie