Twee weke nadat Colombia sy grootste nederlaag sedert 1977 in ’n kwalifiserende wedstryd vir die Wêreldbeker-toernooi gely het, het dié land se sokkervereniging die nasionale afrigter, Carlos Queiroz, die trekpas gegee.

Carlos Queiroz is die deur gewys as afrigter van Colombia se sokkerspan. Foto: Getty Images
Queiroz is ’n ou bekende in Suid-Afrika en was van 2000 tot 2002 Bafana Bafana se breier.
Dié Portugees was onder groot druk nadat Colombia tuis met 0-3 teen Uruguay verloor het in ’n kwalifiserende stryd vir die WB-toernooi in Katar in 2022. Die laaste strooi was egter toe sy span vier dae later met 6-1 in ’n wegwedstryd deur Ecuador afgeransel is.
Dié nederlae het meegebring dat Colombia nou sewende op die Suid-Amerikaanse puntelys lê. Slegs die vier toplande in dié vasteland se WB-kwalifiseringstoernooi bespreek outomaties hul plekke in Katar.
Die 67-jarige Queiroz het in Februarie 2019 die leisels in Colombia geneem. Voor dít was hy lank aan die stuur van Iran. Hy het ook al Portugal en Saoedi-Arabië se nasionale spanne afgerig, was die breier van die Spaanse klubreus Real Madrid en was ’n hulpafrigter by Manchester United.
Onder Queiroz se leiding het Suid-Afrika destyds vir die WB-toernooi in 2002 gekwalifiseer, maar hy is afgedank voor die toernooi in Suid-Korea en Japan en Jomo Sono het uiteindelik die span na die Verre-Ooste geneem. – Reuters, Sportredaksie