Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Deense speler sê hy’s ‘oukei’ ná hartaanval
Duidelik geskokke spanmaats van Christian Eriksen toe hy Saterdag behandeling op die veld ontvang het. Foto: Getty Images

Christian Eriksen, die Deense sokkerspeler wat die afgelope naweek op die veld ’n hartaanval gekry het, sê hy voel “onder die omstandighede goed”.

Dit is Eriksen (29) se eerste openbare kommentaar nadat hy tydens Saterdag se Groep B-wedstryd tussen Denemarke en Finland in die Euro2020-toernooi in Kopenhagen op die veld ineengestort het.

“ ’n Groot woord van dank vir al die oulike en ongelooflike beterskapswense en boodskappe van oor die wêreld heen. Dit beteken vir my en my familie baie,” sê Eriksen in ’n plasing op Instagram.

By die plasing is ’n foto van Eriksen waar hy in ’n hospitaalbed lê en met ’n glimlag ’n duim in die lug hou.

“Ek voel oukei. Ek sal nou die spelers van Denemarke aanmoedig in hul volgende wedstryde. Speel vir almal in Denemarke.”

Kasper Hjulmand, afrigter van die Dene, sê dit sal vir die spelers baie emosioneel wees om na die stadion terug te keer waar hulle hul spanmaat inmekaar gesien sak het. Denemarke kom Donderdag daar teen België te staan.

“Ek het gesê dat Christian die hart van ons span is. Hy is die pols, die ritme van ons spel,” het Hjulmand Dinsdag aan verslaggewers gesê.

“Niemand kan Christian vervang nie. Maar saam sal ons iets doen, iets anders.”

Eriksen het kort voor rustyd in die wedstryd teen Finland ineengesak en is na ’n hospitaal geneem nadat hy lank op die veld behandeling ontvang het.

Spanmaats van Christian Eriksen snel hom te hulp kort nadat hy Saterdag ineengestort het. Foto: Getty Images

Europa se sokkerbeheerliggaam (Uefa) het aan die spelers, wat nadat Eriksen na ’n hospitaal geneem is in die kleedkamer was, die keuse gestel om óf die wedstryd die Saterdag nog te hervat óf om dit die volgende dag oor te speel.

Hjulmand het die beheerliggaam verder gekritiseer toe hy die naweek gesê het hy dink nie die wedstryd moes voortgegaan het nie.

“Ek voel dat ek en die spelers onder druk geplaas is. Dit is die waarheid. Al die ander dinge is nie waar nie,” sê Hjulmand.

“Ek sou daarvan gehou het as Uefa gesê het: Uit die aard van die saak sal daar nie vanaand verdere spel wees nie. Gaan huis toe, ons sal later daarna kyk.”

Uefa het Maandag gesê dat hy die aangeleentheid so goed as moontlik hanteer het.

“Uefa is seker daarvan dat hy die saak met die uiterste respek hanteer het vir die sensitiewe situasie wat dit is – en ook vir die spelers,” sê die beheerliggaam.

“Daar is eers besluit om die wedstryd te hervat nadat die twee spanne gevra het om dit dieselfde aand nog af te handel.” – Reuters


Meer oor:  Hartaanval  |  Euro 2020  |  Christian Eriksen  |  Denemarke  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.