Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Durban-gif vir SA by Mabhida-stadion

Stuart Baxter, afrigter van Suid-Afrika se sokkerspan, sal straks sy voet neersit as Bafana Bafana weer ’n kwalifiserende wedstryd in Durban moet speel.

En nee, dis nie oor die reën wat gister daar in die Moses Mabhida-stadion uitgesak het in hul kwalifiserende wedstryd vir die Afrikabekertoernooi teen Libië nie.

Bafana Bafana se Ramahlwe Mphalele verloor beheer van die bal tydens die Suid-Afrikaners se wedstryd gister teen Libië. Die twee spanne moes met ’n doellose gelykop-uitslag tevrede wees. Foto: Gallo Images

Dit is omdat hulle, soos in die Wêreldbekerkwalifiseringstryd in dié hawestad teen die Kaap Verdiese Eilande wéér nie volpunte kon kry nie teen ’n span wat 101ste op die wêreldranglys is.

Baxter het vooraf gebrom omdat hulle weer op seevlak moet speel. Die Mediterranean Knights het breed geglimlag oor die gelykopuitslag van 0-0 wat hulle nou saam met Suid-Afrika op vier punte ná twee van die ses wedstryde laat. Hulle is weens ’n beter doeleverskil steeds die voorloper in die groep.

Suid-Afrika se Dean Furman, wat as die Speler van die Wedstryd aangewys is, het die uitslag gepas as ’n antiklimaks beskryf.

Hy en Baxter was dit ná die tyd eens dat Libië hom goed laat geld het deur baie spelers strykdeur agter die bal te hê in dié geskiedkundige eerste stryd tussen die lande.

Die lenige Bradley Grobler, wat net in die tweede helfte ingespan is, het hom kort voor die einde in ’n goeie posisie bevind, maar sy kopskoot toe baie wyd verbygejaag.

Die einste Furman kon Suid-Afrika met ’n tikkie geluk vroeg laat voorloop het. Dié middelveldspeler het ’n aangee onderskep en gesien die besoekers se doelwagter, Mohamed Abdaula, staan ver voor die doelhok. Hy het die doelwagter so byna met ’n lugskop oor sy kop geklop.

Libië kan homself egter ook ongelukkig ag dat hy nie rustyd voorgeloop het nie. Anis Saltou het onder meer in die 15de minuut die regoppaal getref ná ’n dwarsaangee.

Bafana het heelwat benoude oomblikke in die eerste helfte oorleef.

Itumeleng Khune, Suid-Afrika se doelwagter, het heelwat meer gesweet as sy eweknie, maar hom goed van sy taak gekwyt.

Die doelskieter Percy Tau se pirouette toe hy een beweging omgeswaai het, het die tuisskare ook ’n slag opgewonde gehad.

So ook was Keagan Dolly se kopskoot van ’n hoekskop af kort ná die hervatting van die tweede helfte net regs verby.

Saltou was ’n tweede keer ongelukkig om Libië nie te laat voorloop nie. Suid-Afrika se kaptein, Thulani Hlatshwayo, het sy voet net betyds in die pad gekry anders was dit beslis 1-0 vir die Knights.

Die lenige Bradley Grobler, wat net in die tweede helfte ingespan is, het hom kort voor die einde in ’n goeie posisie bevind, maar sy kopskoot toe baie wyd verbygejaag.

  • Nigerië het die Seychelles in gister se ander Groep E-wedstryd met 3-0 in Stade Linité in Victoria geklop. Twee van die vier spanne sal vir volgende jaar se toernooi om die Afrika-beker in Kameroen kwalifiseer.
Meer oor:  Afrikabeker  |  Stuart ­Baxter  |  Dean Furman  |  Durban  |  Bafana Bafana  |  Mediterranean Knights  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.