Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sokker
Engelse breier vrees rassisme in Bulgarye

Gareth Southgate, afrigter van Engeland se sokkerspan, vrees dat sy spelers aan verdere rassistiese beledigings blootgestel gaan word wanneer dié twee spanne aanstaande maand in Sofia, Bulgarye, in ’n tweede kwalifiserende wedstryd vir die Euro2020-toernooi kragte meet.

Dít volg nadat Raheem Sterling glo in die spanne se eerste ontmoeting, die afgelope naweek in Londen, die slagoffer van sulke optrede deur ’n besoekende Bulgaarse toeskouer was. Die Engelse Sokkervereniging (FA) het bevestig dat ’n toeskouer uit Wembley begelei is nadat hy hom aan “diskriminerende gedrag” skuldig gemaak het.

Die Engelse speler Raheem Sterling was verlede naweek die slagoffer van rassistiese gedrag deur ’n Bulgaarse toeskouer op Wembley.Foto: Getty Images

Toe Engeland laas in Sofia gespeel het (in 2011), het sommige Bulgaarse toeskouers aapgeluide gemaak wanneer swart Engelse spelers besit van die bal gehad het. Uefa, Europa se sokkerbeheerliggaam, het die Bulgaarse Sokkervereniging destyds met €40 000 (sowat R645 000) hiervoor beboet.

“Dis ’n bekommernis,” het Southgate, wat beplan om vooraf die kwessie met sy spelers te bespreek, aan die Britse media gesê.

“Ons is bewus daarvan dat dit (rassisme) voorheen daar ’n kwessie was. Ons wil seker maak ons is daarop voorbereid vir as dit weer gebeur en hoe ons daarop gaan reageer. Ons is beslis nie vol vertroue dat ons soontoe sal gaan en niks gaan gebeur nie.”

Uefa het intussen die Bulgaarse Sokkervereniging beveel om ’n deel van die Vasil Levski-stadion te sluit wanneer Engeland daar besoek aflê. Engelse spanne wat vroeër vanjaar vir hul klubs daar gespeel het, is ook aan rassistiese gedrag onderwerp.

Southgate het ook sy kommer uitgespreek oor die gedrag van Engelse toeskouers wat die span se wedstryde in die Tsjeggiese Republiek en Bulgarye gaan bywoon.

“Ek’s bevrees dis ’n maatskaplike kwessie. Baie mense wat alkohol gebruik, kan hulself nie beheer nie. Dis beslis nie die tipe mense wat ons wil hê saam met ons moet gaan en Engeland oorsee verteenwoordig nie.” – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.